MOSSELBAAI NUUS - Bedags is sy 'n toegewyde brandbestryder verbonde aan die Mosselbaai-munisipaliteit se brand- en rampbestuursdienste.
Na-ure leef Nadia Julies haar passie vir sport uit en is daarom onlangs deur die Wes-Kaapse Regering tydens die provinsiale sporttoekennings vir haar toewyding vereer toe sy as die Vrywilliger van die jaar benoem is.
Dié verdienstelike lof volg op vroeëre toekennings deur die Eden-sportraad, vir beide die Vrywilliger van die jaar 2019, asook die vir die span wat sy afgerig het wat as finalisspan van die jaar bekroon is. Hierdie span, die o/19-netbalspan het groot hoogtes bereik deur goud in te palm by die nasionale kampioenskappe.
Nadia het haar passie vir sport op die ongelyke grondbane van die eertydse Lutherse Primêre Skool op Herbertsdale ontwikkel. Sedertdien is sy en haar man, Kevin die dryfkrag agter verskeie sportinisiatiewe op dié dorp en in die sewe munisipaliteite van die Suid-Kaap.
Saam met haar man het hulle reeds die afgelope 10 jaar telkens spanne ingeskryf vir die uitmergelende Cape Argus-fietswedren in Kaapstad, wat sedertdien herdoop is tot die Cape Town Cycle Tour. Naweke vergesel hulle die spanne op hul oefenritte en ondersteun die groep in wat bekend geword het as die wêreld se grootste tydsnelheidfietswedren.
"Ek hou van sport, van die wyse waarop dit die deelnemers se lewens verryk. Deur aan sport deel te neem, bied dit hoop aan die jongklomp," sê Nadia.
Haar verantwoordelikhede as vrywilliger sluit nie net administratiewe take in nie, sy is ook 'n afrigter, skeidsregter en bedrewe in al die sleurtake wat daarmee gepaard gaan. Trouens, Herbertsdale se o/13-netbalspan waarvan sy die afrigter is, was in eie reg ook vir die sporttoekennings genomineer.
"'n Mens groei deur die geleenthede wat jy aangryp," sê Nadia.
Nadia Julies (regs) saam met die direkteur gemeenskapsdienste van die Mosselbaai-munisipaliteit, Elize Nel en die hoof van Mosselbaai se brand- en rampbestuursdienste, Joseph Johnston.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'