MOSSELBAAI NUUS - Vir die eerste keer in die geskiedenis van Danabaai word daar op Saterdag, 7 Oktober, 'n lekker informele, gratis, kenmekaar piekniekstyl-fliek by die gemeenskapsaal gehou.
Dit is die inisiatief van twee nuwe inwoners, André en Darrylleen van Staden in samewerking met die raadslid vir Wyk 11, Nickey le Roux.
Le Roux sê inwoners het behoefte om mekaar informeel te leer ken en sommer net skouers te skuur. "Wat kan nou lekkerder wees as om 'n piekniekmandjie te pak, lekker te kuier en boonop gratis te kan fliek?"
Die Van Stadens is die eienaars van Custom Events en bied hul toerusting, onder meer 'n gratis LED-skerm gratis aan om selfs buitelugfliek moontlik te maak.
"Almal is gewoond aan proxima-projektors, die LED toerusting en klank is meer gevorderd en ideaal vir buitelugbyeenkomste," aldus André.
Sou die weer nie saamspeel nie, word die fliek binne die gemeenskapsaal gehou – met piekniekmandjies steeds welkom.
Danabaai-buurtwag is oudergewoonte op hul pos om versnaperinge vir fondswerwing te verkoop en tegelyketyd 'n ogie oor veiligheid te gooi. Daar sal ook ander eetgoed te koop wees vir diegene wat nie self ietsie wil inpak nie.
Danabaaiers kon boonop stem vir die fliekgenre van hul keuse en het loshande aksie/komedie verkies - daarom kan almal van 13:00 nader skuif en heerlik saam kuier tot laat omdat die Springboke dié week 'n loslooitjie het!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’