Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Dis die jaar 2021 en om jou graad te ontvang is nog net so 'n groot prestasie as in die verlede. Maar daar is een belangrike verskil.
Danksy Covid-19, is die dae van konvokasies en massas studente wat ouditoriums inbondel terwyl Gaudeamus Igitur oorverdowend speel, iets van die verlede.
Deesdae word jou graad gepos en die plegtigheid word virtueel gehou. Of, as jy vriende, familie of kollegas het wat kreatief genoeg is, hou hulle sommer vir jou die privaat gradeplegtigheid wat jou hart begeer.
Soos in die geval van JP Snyman en sy vriendin Samantha Breedt. JP is 'n Oakdaler en Samantha het aan Hoërskool Punt gematrikuleer. Beide het aan die Noordwes Universiteit studeer.
Fotogalery: Gradeplegtigheid by Monroe Teater
Verlede Saterdag, 29 Mei, het die tweetjies se familielede vir hulle 'n opskop by die Monroe Teater gehou om te vier dat JP en Samantha onderskeidelik hulle B Pharm- en B Curr-grade ontvang.
Kyk 'n video hieronder:
Die woorde wat JP kies om 2020 mee te beskryf is "deurmekaar, onvoorbereid" en "baie lank". Samantha reken dat dié "deurmekaarjaar" haar geleer het om meer waardering vir die klein goedjies in die lewe te hê en om familie te koester. JP praat weer van die belangrikheid om dinge te doen en nie uit te stel nie - die ou carpe diem-beginsel.
Beide noem dat om hulle grade aanlyn te moes klaarmaak, van die grootste knelpunte van die jaar was. Samantha het klasloop saam met vriende gemis en ook JP beken dat dit 'n bepaalde invloed op studente se fokus en ingesteldheid gehad het.
Wat hulle gradeplegtigheid betref, meen Samantha dat die meer intieme geleentheid sy na- én voordele het.
"Ons het albei hard gewerk en van jy begin swot, droom jy tog oor die dag wanneer jy oor daardie verhoog stap om jou graad te kry. Tog is hierdie viering saam met ons naastes baie spesiaal. Dis tog maar eintlik waaroor dit gaan." JP stem volmondig saam.
Inteendeel, voeg Samantha by dat sy haar kinders eendag 'n soortgelyke ervaring toewens. "Vandag was bloot net 'n voorreg."
Beide dié twee afgestudeerdes meen dat wat die toekoms betref, afstandsonderrig sy uitdagings bied, veral vir diegene wat in praktiese studievelde swot. Daarenteen meen JP, dat hulle wat meer toeretiese studierigtings volg, sal baat by aanlynstudie veral omdat dit dalk dan meer bekostigbaar sou kon wees.
Carol Breedt met haar dogter Samantha en JP Snyman.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'