Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS - Toe oogkundige Willem le Roux Woensdagoggend, 10 Maart deur sy personeel na 'n vergadering by 'n venue in Marshstraat genooi is, het hy nooit kon dink dat hy in die proses eintlik sy eie gradeplegtigheid sou bywoon nie.
Met die intrapslag, onder die geklank van Gaudeamus Igitur, is 'n swart toga oor sy skouers gehang en het een van sy kollegas, Lizanne Schmidt ewe tong in die kies as "dekaan" opgetree om sy graad aan hom te oorhandig.
Le Roux het sy graad in optometrie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.
Met die koms van die Covid-19-pandemie, is talle afgestudeerdes die vreugde van 'n tradisionele, formele gradeplegtigheid ontneem. So ook in Le Roux se geval, wat met sy graad in optometrie, sy tweede tersiêre kwalifikasie ontvang het. Hy het sy graad per pos ingewag, maar sy personeel het ander planne gehad.
Fotogalery: Graad vang toe pure pret
Le Roux het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hy nogal gespanne was om sy graadsertifikaat te ontvang. "Ek het al stories gehoor van 'optometriste' wat kliënte sien op grond van 'kwalilkasies' wat nie aan hulle behoort nie."
Welwetend van Le Roux se kommer, het sy personeel die posstuk wat sy graadsertifikaat bevat het op Maandag, 8 Maart onderskep en besluit om iets spesiaals vir die oorhandiging daarvan, soortgelyk aan 'n gradeplegtigheid te organiseer.
Kyk 'n video hieronder:
Soos blits is 'n venue, nie-alkoholiese vonkelwyn, versnaperinge en 'n "gehoor" gereël. Elk deftig met 'n hoed op die kop, het die gaste hulle plek in die Monroe Teater ingeneem en onder luide applous toegekyk hoe 'n verbaasde Le Roux gretig die pakkie met sy graadsertifikaat in oopskeur.
Stemnotas is van Le Roux se familielede aangevra en dit is ook tydens die oorhandiging gespeel.
Le Roux vertel dat hy 'n paar telefoniese navrae aangaande die aflewering van sy graadsertifikaat gedoen het. Toe die verwagte pakkie nie Maandag opdaag soos belowe is nie, het hy gewonder of sy vrese bewaarheid is en dat sy graad dalk by die ander Marshstraat in Soweto sou kon beland het.
"Na vandag besef ek dat die fisiese ontvang van jou graad iets is wat jy altyd sal onthou. Die mense om jou en die gelukwensings beteken amper meer as daardie stukkie papier."
'n Vinnige paar reëlings moes getref word om Willem le Roux te verras met 'n gradeplegtigheid. Hier is sy kollegas (van links) Maudie Prins, Lizanne Schmidt en Susan Brits.Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'