MOSSELBAAI NUUS - 'n Uitgebreide soektog is verlede naweek van stapel gestuur om die liggaam van 'n 40-jarige man van Asla Park, Mosselbaai te vind nadat hy tydens 'n uitstappie Saterdag, 29 Januarie in die Gouritsrivier vermis geraak het.
NSRI se woordvoerder, Craig Lambinon het berig dat die NSRI op Mosselbaai verlede Saterdag omstreeks 17:32 kennis ontvang het van 'n moontlike verdrinking by die laagwaterbrug oor die Gouritsrivier, naby Gouritsmond.
'n Reddingsvaartuig is na die toneel gesleep en te water gelaat, terwyl die polisie, Mosselbaai se brand-, redding- en rampsbestuursdiens, asook staatsambulans en -reddingsvoertuig ontplooi is.
Met aankoms op die toneel, het ooggetuies vertel dat 'n man onder die wateroppervlak verdwyn het terwyl hy geswem het.
Twee persone op die toneel het tot sy redding probeer kom en een van hulle is op die toneel deur paramedici behandel, nadat hy tevergeefs onderwater na die drenkeling probeer soek het.
Nadat die NSRI se soektog niks opgelewer het nie, het polisieduikers die toneel verder gefynkam.
Die soektog het op Sondag, 30 Januarie voortgeduur. Die KwaNonqaba-polisie het Maandagaand, 30 Januarie bevestig dat die man, Anthony Andrews, se liggaam omstreeks 19:30 gevind is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'