MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van Glentana, wat die afgelope Julie die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) met 'n reddingsoperasie bygestaan het, is onlangs deur Mosselbaai se munisipale raad vereer.
Stefan de Klerk het tydens die ope raadsvergadering op 29 Augustus 'n sertifikaat van lof ontvang wat die burgemeester, Dirk Kotzé, en munisipale bestuurder, Colin Puren, aan hom oorhandig het.
Só 'n sertifikaat sal aan 'n inwoner van Mosselbaai-munisipaliteit toegeken word wanneer 'n persoon na die raad se mening so 'n eer waardig is en indien dit deur 'n meerderheid van die raad goedgekeur word.
Die raad het De Klerk se daad as volg beskryf:
"As gevolg van die heldhaftige en onbaatsugtige daad van Stefan de Klerk, wat op 6 Julie 2024 vrywillig nooddienste bygestaan het, is drie mense, wat op rotse in Glentana vasgekeer was, gered en na veiligheid gebring. Die reddingsoperasie het ongeveer twee ure geduur met De Klerk wat die nooddienste bygestaan het met sy kennis en ervaring in dié omgewing."
Mossel Bay Advertiser het na afloop van die redding oor die voorval berig.
Vir De Klerk het daardie dag begin as een gevul met rugby en vriende, maar geëindig met hom, tot by sy middel in die water, in die aankomende springgety.
Hy ken die area baie goed aangesien hy al vir 21 jaar daar woonagtig is. Hy het al voorheen mense gered, en besluit om op dié dag ondersoek in te stel ná hy sirenes gehoor het.
Hy het daar aangekom en uitgevind mense sit op die rotse vas. Hy het vir die NSRI-lede gesê hy ken daardie rotse soos die palm van sy hand en weet waar die mense waarskynlik vassit.
Die NSRI het hom toestemming gegee om te help en na afloop van dié redding hom geloof as 'n Barmhartige Samaritaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’