Gallery
MOSSELBAAI NUUS - “Wat in die lewe tel is nie bloot die feit dat ons geleef het nie. Dis die verskil wat ons aan ander se lewens gemaak het wat die impak sal bepaal van die lewe wat ons lei.” Só het Madiba eens gesê.
Deesdae, op 18 Julie vier nie net Suid-Afrikaners nie, maar die hele wêreld die lewe van een van die grootste ikone wat Afrika tot nog toe opgelewer het.
Op 18 Julie 2008 met die ontslape president Nelson Mandela se 90ste verjaardag in Londen, het hy gesê: “Dis nou tyd vir nuwe hande om die las te verlig. Dit is nou in julle hande.”
In November 2009 het die Verenigde Nasies se algemene vergadering eenparig besluit om 18 Julie tot Internasionale Nelson Mandeladag te verklaar.
Mandeladag is ’n wêreldwye wekroep tot aksie wat die idee vier dat elke persoon die mag het om die wêreld te verander en te verbeter, danksy die vermoë om ’n impak te maak.
Te midde van die Covid-19-pandemie, het Mosselbaai-munisipaliteit vanjaar dié wekroep gehoorsaam.
Hulpbehoewendes van al die wyke in die groter Mosselbaai kon aantree vir ‘n kospakkie.
Die onderskeie afdelings het bydraes ingesamel, ongeag die uitdaging dat heelwat personeel steeds van die huis af werk terwyl ander skofte by die kantore doen. Hierdie bydraes is gebruik om versnaperinge, persoonlike sorgitems en bederfies te koop waarmee gesondheidsorgwerkers by die Mosselbaai provinsiale hospitaal vir hulle werk bedank is.
Asof in afwagting op Madibadag, het Gift of the Givers Mosselbaai op 17 Julie besoek om 50 kospakkies af te gee. In samewerking met Life Bay View privaat hospitaal is begunstigdes vanuit die groter Mosselbaai genooi om laatmiddag hul toegif in ontvangs te neem.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, het Gift of the Givers en Life Bay View privaat hospitaal vir hul ruim skenking bedank en daarop gewys dat die Covid-19-pandemie geen onderskeid tref nie aangesien die gemeenskappe regoor die groter Mosselbaai onder honger en ander nood deurloop.
Fotogalery: Madibadag op Mosselbaai gevier
Verder het verskeie raadslede die afgelope Saterdag in hul onderskeie gemeenskappe die hand gereik na persone en instansies wat erge nood ervaar, of wat die hul roeping maak om onselfsugtig ander se nood te verlig.
Life Bay View privaat hospitaal het nie net kospakkies nie, maar ook insiggewende pamflette met inligting oor voorkomingsmaatreëls teen die Covid-19-pandemie uitgedeel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'