Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - 'n Dertigjarige man is in die vroeë oggendure op Saterdag, 1 Mei op die sypaadjie in Marlinstraat, Uitbreiding 13 met 'n skietwond aan die bors gevind.
Die voorval het volgens inligting van die Da Gamakop-polisie, omstreeks 00:30 plaasgevind.
Die oorledene, Raidon James se liggaam is naby die Bergsig-woonstelle gevind.
Sover bekend, het James ten tye van sy afsterwe aan huis van sy ma en ouma in John Brown-straat gewoon.
Die polisie en ambulans is deur lede van die gemeenskap in die omgewing ontbied nadat hulle glo skote gehoor en 'n man in die straat sien lê het. James is na die Mosselbaai provinsiale hospitaal geneem, waar hy met aankoms dood verklaar is.
Aanvanklike inligting wat lui dat 'n groep onbekende mans ten tye van die voorval in die omgewing waargeneem is, is nog onbevestig.
Op 29 Maart vanjaar is die Gelderbloem-broers wreed op die hoek van John Brown- en Marlinstraat aangeval, waarna 'n 27-jarige Rich Leigh aan sy wonde beswyk het. Niemand is nog in verband met die enige van die voorvalle in hegtenis geneem nie. Hoewel daar gerugte is van bendebedrywighede wat tot die geweld in die omgewing gelei het en dat die twee voorvalle moontlik met mekaar verband kan hou, is geen amptelike bevestiging hiervan ontvang nie.
Kaptein Wollie Fourie, kommunikasie-beampte van die Da Gamaskop-polisie het bevestig dat hulle verskeie leidrade in verband met James se dood opvolg en dat daar wel vordering met die ondersoek gemaak word. "Ons doen 'n dringende beroep op die gemeenskap om na vore te kom met inligting. Enige ooggetuies wat in die ondersoek behulpsaam kan wees, kan met die kaptein Carel Cornelius kontak maak." Cornelius se kontaknommer is 079 879 9003.
Kyk twee video's hieronder:
Gebedsbyeenkoms
Die gemeenskap van Tarka het Sondagmiddag, 2 Mei om 15:00 'n diens in die parkie in Kanariestraat gehou.
Die byeenkoms is deur pastoor Neil Williams gelei.
Munisipale raadslid David Kamfer, 'n inwoner van Tarka het na die moord Vrydag besluit dat daar drasties iets gedoen moet word om die gemeenskap van Tarka terug te laat beweeg na die gemeenskap van ouds, naamlik 'n gemeenskap wat omgee vir mekaar en wat die Here dien.
Sowat 300 mense het vir die diens opgedaag wat met gewyde liedere begin is. 'n Dansitem is deur 'n plaaslike groep gelewer. Kamfer het die gemeenskap bedank vir die opkoms en genoem dat die afgelope weke moeilik vir die inwoners van Tarka en ander woonbuurte was. Hy het Williams en sy span bedank vir wat hulle in Tarka kom doen het. Die diens is met gebed afgesluit.
Pastoor Neil Williams tydens die gebedsbyeenkoms in Tarka. Foto: Jannie du Plessis
Tydens die gebedsbyeenkoms. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'