MOSSELBAAI NUUS - Manalleen het 'n munisipale wetstoepassingsbeampte kans gesien vir vyf mans waarvan ten minste twee met messe gewapen was, toe hy 'n vrou wat van haar selfoon beroof is, te hulp gesnel het.
Munisipale wetstoepassingsbeamptes se taak is om toe te sien dat munisipale verordeninge gehoorsaam word, maar toe wetstoepasser Warilyn Kiewiet sien dat mans 'n weerlose vrou rondpluk en van haar selfoon beroof, het hy sonder skroom vir haar ingetree.
Warilyn was alleen in sy patrollievoertuig op Maandag, 26 Februarie toe hy omstreeks 18:30 by die sirkel op die hoek van Bill Jefferyrylaan en Mayixhaleweg twee mans opmerk wat geweldadig teenoor 'n jong vrou optree. Benewens dié twee mans, het nog drie ander op 'n kort afstand gestaan. Die mans was besig om met messe die jong vrou van haar selfoon te beroof.
"My oog het die mans se gedrag gevang en ek het oogkontak met die vrou gemaak. Sy het my hulp gevra," vertel Warilyn. Hy sê hy het vanuit sy patrollievoertuig op die mans geskree. Beide mans was met messe gewapen en het toe arrogant die messe in sy rigting geswaai.
Toe dit blyk dat Warilyn tot die vrou se redding gaan kom, het die mans wegge-hardloop. Een het by die Kwanonqaba MALL se parkeerarea ingehardloop, terwyl die ander in die rigting van Aslapark gehardloop het.
Op daardie stadium het Warilyn se kollega, Sonwabo Dimiso, toevallig op die toneel gekom en het hulle beide die gewapende man agterna gesit. Die voortvlugtende man het by 'n privaat woning probeer skuil, waar van die inwoners 'n hond gebruik het om hom uit sy skuilplek te kry. Steeds het die man sy mes rondgeswaai.
Uiteindelik het Warilyn en Sonwabo daarin geslaag om die gewapende man in hegtenis te neem en het hulle hom na die KwaNonqaba-polisiestasie geneem. Op pad na die polisiestasie het hulle die betrokke jong vrou weer opgespoor. By die polisiestasie het hulle 'n klagte vir die besit van 'n gevaarlike wapens en 'n klagte van gewapende roof teen die beskuldigde aanhangig gemaak het.
Ongelukkig het van die ander mans wat by die voorval betrokke was daarin geslaag om met die vrou se selfoon te ontsnap. Superintendent Antoinette Snyders, die skofbevelvoerder van die twee wetstoepassingsbeamptes het trots vertel dat Warilyn en Sonwabo staatmakerlede in haar span is. "Moenie 'n vrou in hul teenwoordigheid te na kom nie, dié manne sal dit nie duld nie. Hulle is goed opgelei en skroom nie om betrokke te raak nie."
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het die personeel geloof vir hul bereidwilligheid om tot die hulp van 'n weerlose vrou te kom.
Wetstoepassingsbeamptes Warilyn Kiewiet en Sonwabo Dimiso saam met hul bevelvoerende offisier, superintendent Antoinette Snyders en die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee. Foto: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'