Update
MOSSELBAAI NUUS - Die misdaadknelpunt op Louis Fourieweg in die Blue Waters-omgewing het nóg 'n slagoffer geëis.
'n Vakansieganger (61), vermoedelik van Noordwes, is omstreeks 18:30 op Donderdag, 13 Desember deur twee mans met 'n mes aangeval en van sy selfoon beroof. In die proses het hy 'n ernstige sny aan die kop opgedoen wat in die Life Bay View hospitaal geheg moes word.
Volgens 'n ooggetuie het hy opgemerk dat die vakansieganger met sy visgerei op pad na sy geparkeerde dubbelkajuitbakkie was. Hy het tegelykertyd gesien dat twee mans vanuit die oorkantste rantjie na die geparkeerde voertuig toe beweeg. Teen die tyd dat die ooggetuie met sy eie voertuig omgedraai kon kry om die vakansieganger te hulp te snel, het die twee mans die slagoffer reeds aangeval en met vermoedelik 'n mes toegetakel.
Die misdadigers het met die vakansieganger se selfoon in die rigting van JCC ontvlug.
Die vakansieganger en sy seun het vermoedelik op die rotse visgevang. Die seun het na bewering oomblikke later op die toneel gekom toe sy pa reeds wreed aangerand was. Na wat verneem word het die vakansiegangers onlangs met vakansie in Mosselbaai aangekom.
Die ooggetuie en een van sy personeellede, wat oomblikke na hom ook by die toneel stilgehou het, het die vakansiegangers te hulp gesnel en het die polisie ontbied.
Die woordvoerder van die Life Bay View Hospitaal, Elzaan Moelich het bevestig dat die slagoffer in die hospitaal se noodeenheid behandel is waar die kopwond geheg en 'n kopskandering gedoen is.
Bouval
Die voorval het in die omgewing van die bouvallige wit geboutjie in die Blue Waters-omgewing op Louis Fourieweg plaasgevind. In 'n onverwante voorval is 'n Mosselbaaier, Neels Spies om ongeveer 05:15 op Woensdagoggend, 12 Desember van sy trapfiets afgeruk toe hy op pad werk toe was.
"Die twee mans het messe gehad, hulle het my rugsak met my beursie en sleutels vir my werksplek gegryp en weggehardloop," sê Spies.
Hy voeg by dat hy nooit weer daarlangs sal fietsry nie.
"Ek gebruik nou die motor werk toe en terug en sal maar later 'n motorfiets aanskaf. Die mense moet bewus gemaak word dat dit 'n gevaarlike gebied is, veral by die bouval. Die pad en die strand is ewe gevaarslik."
Intussen het verskeie lesers daarop aangedring dat die bouval afgebreek moet word omdat hulle meen die misdadigers skuil daaragter.
Ander weer, meen die wetstoepassers kan daardie bouval omskep in 'n tydelike polisiekiosk om wetstoepassing op die berugte strook van Louis Fourieweg te koördineer.
"Dit is veral opvallend dat die jongste voorvalle plaasgevind het net voor, of net ná wetstoepassers die gebied patrolleer. Dit skep die indruk dat die misdadigers die area baie fyn dophou en dus toeslaan wanneer daar nie opsigtelike patrollies is nie."
Lees 'n vorige artikel: Gewapende roof op berugte Louis Fourieweg
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'