MOSSELBAAI NUUS - Die misdaadknelpunt op Louis Fourieweg in die Blue Waters-omgewing het nog 'n slagoffer geëis toe 'n vakansieganger (61), glo van Noordwes, vanmiddag omstreeks 18:30 deur twee mans, vermoedelik met 'n mes, aangeval en van sy selfoon beroof is.
Volgens 'n ooggetuie het hy opgemerk dat die vakansieganger met sy visgerei op pad na sy geparkeerde motor was en het tegelykertyd opgemerk dat twee mans vanuit die oorkantste rantjie na die voertuig toe beweeg.
Teen die tyd dat die ooggetuie sy eie voertuig omgedraai kon kry en die vakansieganger te hulp kon snel, het die twee mans die toeris reeds aangerand en met vermoedelik met 'n mes toegetakel.
Die misdadigers het met die vakansieganger se selfoon ontvlug.
Die vakansieganger se seun, wat skynbaar saam met sy pa visgevang het, het later op die toneel gekom.
Die ooggetuie en een van sy personeellede wat ook by die toneel stilgehou het, het die vakansieganger te hulp gesnel en het die polisie ontbied.
Die woordvoerder van die Life Bay View Hospitaal, Elzaan Moelich het bevestig dat die vakansieganger in die noodeenheid behandel is waar die kopwond geheg en 'n kopskandering gedoen is.
Die voorval het in die omgewing van die bouvallige wit geboutjie op Louis Fourieweg in die Blue Waters-omgewing plaasgevind.
Meer inligting sal volg sodra dit bevestig kan word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'