MOSSELBAAI NUUS - Grimeerkunstenaar Meryl Brown se gestremdheid sit haar nie terug nie. Inteendeel, nadat sy onlangs aan 'n skoonheidskompetisie deelgeneem het, aangebied deur Crawlers and Crowns, wat juis ten doel het dat die titeldraers 'n verskil in die gemeenskap moet gaan maak, is sy opnuut vuur en vlam.
Meryl het vandeesweek Woensdag gaan kuier by die Siyanithanda-sentrum vir gestremdes in KwaNonqaba. Meryl is 'n linker-hemipleeg en een van 'n tweeling. Sy het beperkte gebruik van haar linkerarm en -been. Haar gestremdheid is die gevolg van 'n voorgeboortelike besering.
"Ek wil al lankal 'n verskil maak in 'n gestremde kind se lewe, juis deur vir hulle te wys dat mense vir hulle omgee."
Tydens haar gesprek met die kinders Woensdag, het sy vertel hoe sy as kind gespot is oor haar gestremdheid en ook dat mense altyd gesê het dat sy niks van haar lewe sou maak of ooit liefde sou ontvang nie. Sy het die kinders, by monde van pastoor Maki, wat haar boodskap in die jongmense se moedertaal aan hulle verduidelik het, aangemoedig om nooit toe te laat dat mense hulle dinge oor hulleself vertel wat nie waar is nie.
"God het ons almal uniek en normaal gemaak op ons eie manier. Moenie in die hoekie gaan sit en jouself bejammer nie oor jou gestremdheid nie. Wys vir mense wat jy kan doen ten spyte daarvan."
Grimeerkunstenaar Meryl Brown op haar gelukkigste tussen die jonges wat sy graag wil liefde gee.
Meryl beplan weeklikse besoeke aan die sentrum. Sy is die ma van 'n 11-jarige seun.
Crawlers and Crowns, onder leiding van Karen en Kallen Gray ondersteun verskeie welsynsprojekte in die Suid-Kaap-omgewing.
Meryl Brown beplan weeklikse besoeke aan Siyanithanda-sentrum vir gestremdes. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'