Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die Punt in Mosselbaai is sinoniem met 'n verkwikkende seebries, die see se kenmerkende reuk en natuurlik, 'n roomys. Maar nie almal, selfs diegene wat in Mosselbaai bly is altyd in die posisie om hierdie voorreg te kan geniet nie.
Dinsdagoggend 4 Desember, het die Mosselbaai-tak van Solidariteit Helpende Hand egter 'n gestremde, bedlêende vrou se Kerswens bewaarheid deur vir haar 'n uitstappie na die Punt te reël, waar sy 'n Steri Stumpie saam met haar suster kon gaan geniet. Allison Williamson het onlangs 40 jaar oud geword. Sy is in 2009 opgeneem in Ons Huis, een van die ACVV Seebries-tehuise.
Volgens haar suster, plaaslike prokureur Fiona Williamson, ly Allison aan 'n ongediagnoseerde breinkondisie. "Sy kan nie beweeg nie. Sy kan nie eens self 'n vlieg van haar gesig af waai nie. Sy eet nie self nie en kry binne-aarse voeding." Tydens Dinsdag se uitstappie, het Fiona haar sussie liefderyk 'n Steri Stumpie vanuit 'n inspuiting gevoer. Ally, soos sy bekend is, is mal oor 'n Steri Stumpie wanneer dit bietjies-bietjies op 'n slag op haar tong gespuit word.
"By Solidariteit Helpende Hand is ons fokus kinders, bejaardes en gestremdes en ons het 'n projek waartydens ons Kerswense uit die gemeenskap bewaarheid," verduidelik Marlise Labuscagne van Solidariteit Helpende Hand.
"Ons het 'n Kerswens ontvang van die ACVV Seebries-tehuis se bestuurder. Dit was hulle grootste wens om Ally op 'n uitstappie strand toe te vat."
Kyk 'n video hieronder:
Volgens Marlise, was die uitstappie vir Fiona eweneens 'n aangename verrassing, aangesien alles sonder haar medewete in plek gesit is.
By Grace-ambulansdiens het dadelik ingewillig om Ally te vervoer. "Toe ons gevra is om hierdie unieke projek aan te pak om 'n dametjie vir so 'n uur lank see toe neem nadat sy agt jaar gelede by die see was, het ons onmiddellik ja gesê. Dit is vir ons 'n groot voorreg om deel te wees van hierdie projek," was Juan Barnard, eienaar van By Grace se kommentaar.
"Al lê sy met haar oë toe, weet ek sy geniet dit terdeë. Baie dankie aan almal wat haar so bederf het vandag," het Fiona afgesluit.
'n Soen vir 'n sussie. Fiona Williamson (links) saam met haar sussie, Allison. Marlise Labuscagne van Solidariteit Helpende Hand hou die sambreel vas om die son weg te keer.
Sussies deel 'n teer oomblik by die Punt.
Personeel van By Grace-ambulansdiens het gehelp om Ally se eerste uitstappie see toe in agt jaar moontlik te maak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'