Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Vir 39 jaar is die wêreld stil om 'n plaaslike inwoner van Mosselbaai, maar 'n aanstelling as assistent-terreinwerker by 'n plaaslike skool, het sy lewe verander.
Lowhein Louw (39), het sy lewe lank spandeer tussen die Nuwe Hoop Sentrum vir gehoorgestremdes, Worcester en sy tuisdorp tot hy op 1 Junie aangestel is, in sy eerste werk waar hy 'n salaris verdien.
Volgens Genevieve Muller, skoolhoof van Diaz Primêre Skool, was daar 'n behoefte vir 'n assistent-terreinwerker. Louw het vir die pos aansoek gedoen. Sy onderhoud het deur middel van 'n tolk geskied en hierna, is daar eenparig besluit om hom aan te stel.
"Hy gaan baie goed aan en is 'n aanwins vir die skool," sê Muller.
In 'n onderhoud met die Mossel Bay Advertiser, met nie-doserende personeellid as tolk en Muller wat vooraf opgestelde vrae aan Louw vra, het hy vertel dat hy hier in Mosselbaai in 1982 as die enigste doofstomkind van die gesin gebore is. Soos met baie gehoorgestremdes, het sy lewe bestaan uit skoolgaan in Worcester en vakansies by die huis.
Kyk 'n video hieronder:
Op een van die vrae het Louw geantwoord dat hy nog nooit 'n vaste salaris verdien het nie en is altyd sommer uit die hand betaal vir werkies wat hy verrig het. Met Diaz Primêr se leuse, Word 'n baanbreker, is Muller en haar personeel trots om te kan sê dat die skool ingerig is om persone met gestremdhede, onder meer rolstoelgebruikers, te akkommodeer.
Louw het ook op 'n vraag geantwoord dat hy graag lank by die skool wil werk. Hy berig ook dat die voorman, skoolhoof, personeel en kinders hom respekteer en verstaan. Volgens hom is dit vir hom lekker om daar te werk.
Vir ander gestremdes is sy boodskap om nie tou op te gooi nie. Hyself is 'n bewys daarvan dat gestremdheid jou nie onder moet kry nie.
Lowhein Louw
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'