MOSSELBAAI NUUS - Mede-eienaars en ontwikkelingsbestuurders van die beplande Garden Walk Mall (naby Monte Christo) het in Januarie vanjaar gesê daar word beoog om die sentrum in Oktober 2025 te open - daar is egter tans 'n oponthoud.
Daar is 'n geskil oor die ontwikkelingsbydraes wat die ontwikkelaar aan die Mosselbaai-munisipaliteit verskuldig is.
Die verskil tussen die ontwikkelaar en die munisipalitiet se berekeninge is miljoene rande.
Volgens die Moolman Group se webblad is die nuwe openingsdatum Maart 2026.
'n Verslag oor die verskil in opinie oor dié ontwikkelingsbydraes vir die sentrum word by die Februarie 2025 raadsvergadering verwag.
Daar word beoog om die sentrum naby Monte Christo tussen die N2 en die R102 te bou.
Weens die groot verskil in opinie oor die bydraes, is daar egter 'n vertraging in die ontwikkeling.
Die verslag sou in November se raadsvergadering voorgelê word, maar volgens die konstruksieregskundige, dr AD Malan, wat aangestel is om die geskil op te los, word meer tyd daarvoor benodig.
Volgens die item wat voor die raad gedien het, het Malan dadelik aan die werk gespring en 'n voorlopige vorderingsverslag ingedien.
In die verslag bevestig hy dat kontak reeds met die Moolman Group (ontwikkelaar) en die groep se regsverteenwoordiger gemaak is.
Hulle ondersteun sy aanstelling en sal help waar hulle kan om die saak met betrekking tot die berekeningsverskil op te los.
Volgens die Moolman Group skuld hulle die munisipaliteit R15 936 617,17, terwyl die munisipaliteit se berekening wys hulle skuld R51 623 852.
Malan het reeds deur meeste van die relevante inligting gewerk en hy is tans besig om die veranderlikes en die riglyne, wat met die berekening van die ontwikkelingsbydrae gebruik is, te analiseer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’