HARTENBOS NUUS - Sowat 40 lede van die “Geroeste Ysters”, ‘n groep oud weermaglede het die afgelope naweek in Hartenbos byeengekom.
Die groep bestaan uit alle range en lede is van alle eenhede wat militêre diensplig gedoen het asook lede van die SAPD.
Die Geroeste Ysters, wat sowat vier jaar gelede ontstaan het op inisiatief van Pierre Smit, kom kwartaaliks op verskeie plekke in die land byeen.
Tydens die byeenkomste word die besonderse band wat soveel jare gelede tydens die grensoorlog tussen die manne ontstaan het, bevorder en staaltjies oor al die gebeure asook oor die karakters wat so deel gevorm het van hierdie moeilike tyd, word weer vertel.
Die hoofdoel van die groep is egter om deur vriendskap, mekaar te ondersteun.
Tydens die afgelope byeenkoms, is daar ook eer betoon aan een van die geliefde lede van 61 Meganiese Bataljon, Gavin Drake, wat in die Hartenbos-begraafplaas begrawe is. Die eenheid was in Ovamboland met hulle hoofkwartier in Tsumeb.
Die byeenkoms in Hartenbos, was die grootste wat tot dusver plaasgevind het.
Lede van die informele groep Geroeste Ysters het Saterdag 'n besoek aan die graf van Gavin Duncan gebring om eer aan hom te betoon vir sy diens maar ook sy kameraadskap tydens die grensoorlog. Foto: Tersia Marais
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'