Niggies Tarron Lucas en Waydene London was Maandagmiddag 11 Maart omstreeks 14:30 op pad huistoe vanaf Sao Bras Hoërskool in D'Almeida, waar hulle Matriek-hereksamens afgelê het. Oudergewoonte het hulle die kortpad deur die kloof geneem na hul ouer-huise in Uitbreiding 13.
Onderweg terug na waar vriende bo teen die kloof vir haar gewag het, het Tarron se selfoon, wat in haar drasak was, gelui toe twee jong mans van voor af by haar verbygaan.
"Hulle het omgedraai en gevra watter soort selfoon ek het en toe ek weier om hulle te wys, het hulle my gedreig met 'n mes, my sak ge-gryp, die foon uitgehaal en laat spaander," vertel Tarron.
Sy het egter nie gras onder haar voete laat groei nie, hom agternagesit en ook vir haar vriende geskree om die jongmans voor te keer.
Die twee vermeende diewe het in verskillende rigtings laat spaander. Waydene het agter een verdagte aangehardloop en hom gevolg tot binne 'n woning waar sy hom gekonfronteer het. Intussen het haar vriende, lede van die SAPD wat daar naby op patrollie was, van die insident in kennis gestel. Hulle het dadelik reageer en die soektog voortgesit. "Die een skelm het my weer ontglip, maar my neef Dane het hom ingehaal en met mening platgeduik," vertel Waydene.
Die een verdagte is toe deur die SAPD in hegtenis geneem, terwyl die ander een steeds op vrye voet is. Die inwoners van Tunastraat meen dat veral skoolkinders gereeld deurloop onder misdaad in die kloof.
Dane sê dat hy het glad nie eens aan sy eie veiligheid gedink toe hy die vermeende dief agternagesit het nie.
"Nee wat, bloed is dikker as water en boonop is genoeg nou genoeg," sê hy. "Boonop het ek gereken dat as ek iets doen, my voorbeeld ander mense in die gemeenskap sal aanmoedig om misdaad te help bekamp."
Volgens kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die SAPD Da Gamaskop, is daar gedurende 2012 meer as 120 sake aangemeld van selfone wat gesteel is. Volgens die ondersoekbeampte speurder, A/o Van Eyk, word beide verdagtes verbind met verskeie van laasgenoemde sake.
Enige inligting rakende die ander verdagte, Ricardo (Ricky) Moolman, kan aan speurder A/o Van Eyk deurgegee word by 071 470 9542.
Wenke
- Volgens kapt Fourie, is baie van die oorsake van selfoondiefstal voorkomelik en hy gee die volgende wenke:
- Selfone moet nie op die persoon gedra word nie - kry liefs 'n selfoonsakkie op 'n gordel of 'n sakkie met 'n toutjie om om die nek te hang.
- Moenie selfone by drinkplekke of eetplekke op toonbanke of tafels los nie.
- Moenie selfone op die batterylaaier in jou woning laat en deure oop los nie. Ook nie as jy gereeld mense ontvang, wat tot gevolg kan hê dat selfone gesteel kan word nie.
- Moenie met selfone harde musiek speel en terwyl jy rondloop waar 'n persoon moontlik beroof kan word nie.
- Selfone is 'n duursame item wat maklik vir kontant verruil word en daar is altyd 'n aanvraag daarvoor. Dit is dus 'n maklike teiken van mense wat gou geld in die hande wil kry.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS