MOSSELBAAI NUUS - So sterk voel die Icosa se provinsiale leier en Mosselbaai munisipale raadslid, Dawid Kamfer, oor beweringe van onreëlmatighede met die ontwikkeling van die middelinkomste-behuising langs Louis Fourieweg agter die Alma-kliniek, dat hy 'n klag van bedrog teen die munisipaliteit by die Mosselbaai-polisie aanhangig gemaak het.
Die behuisingsprojek maak voorsiening vir inwoners met 'n gesamentlike inkomste van nie meer nie as R25 000 per maand om 'n eie huis te bekom. Voornemende huiseienaars, wat volgens riglyn 'n eerste-huiskoper moet wees, moet 'n lening vir die transaksie vanaf 'n erkende finansiële instelling bekom, of kontant betaal.
Daar bestaan ook voorwaardes vir die tydsraamwerk vir die oprigting van 'n huis op die erf wat van die munisipaliteit aangekoop word.
Die munisipaliteit het in 2016 tydens die bekendstelling van die projek gesê die maatskappy Ccelgro Projects is na 'n oop tenderproses gekontrakteer om voornemende middelinkomste eienaars by te staan met die totale-koste proses. Hul dienste sluit onder meer die administrasie verbonde aan die aansoekproses om 'n huislening te bekom, argiteksplanne, die hantering van die munisipale goedkeuring van die bouplanne, die bouwerk, asook okkupasiesertifikaat in.
Beweringe oor raadsriglyne
Kamfer beweer egter dat die maatskappy nie die raad se riglyne gevolg of nagekom het nie. Hy sê in 'n beëdigde verklaring in besit van die Mossel Bay Advertiser "... dit het onder my aandag gekom dat die riglyne soos wat deur die advertensie [24 Februarie 2016] gemeld was nie gevolg en nagekom is nie. Dit het geblyk dat die gronde aan ontwikkelaars onder andere Ccelgro Projects ... verkoop is en dat hulle die registrasie sowel as die bou van die huise doen teen bedrae nie soos in die advertensie van die Raad nie."
Hy sê verder hy het hom vergewis van die inhoud van die advertensie en het "na aanleiding van my eie ervaring met Ccelgro Projects gevind dat die klagtes [deur sommige aansoekers] wel gronde het ..."
In 'n onderhoud met die Advertiser, beweer Kamfer voorts dat vyf erwe aan 'n Namibiër verkoop is en dat dit as huureiendom ontwikkel word. Hy het ook spesifieke erfnommers voorsien wat aan die munisipaliteit deurgegee is.
Hy het ook tydens die onderhoud aangevoer dat die minimumkoste-raadsvoorskrif per erf - R52 000 - en bostruktuur (huis) - R210 000 - nie meer van krag is nie.
Beweringe weerlê
Raadslid Kamfer se bewering is deur die munisipaliteit betwis.
Aanvanklik is in 2016 berig dat 104 erwe beskikbaar gestel word, maar die direkteur van beplanning en geïntegreerde dienste, Carel Venter het vandeesweek berig dat 97 residensiële erwe ontwikkel is "waarvan 25 erwe aan Ccelgro beskikbaar gestel is om mee te handel. Tans het Ccelgro 12 erwe ontwikkel of is in proses."
Die erwe is oorwegend sowat 315 vierkante meter in oppervlak en bekostigbaarheid bepaal die grootte van die huis, maar alle bouplanne maak voorsiening daarvoor dat die eienaar die huis kan verbeter en vergroot soos en wanneer die geld daarvoor beskikbaar is.
Raadslid Dawid Kamfer, ook die provinsiale leier van Icosa, het vandeesweek 'n klag van bedrog by die polisie teen die Mosselbaaise munisipaliteit aanhangig gemaak gegrond op beweerde onreëlmatighede met die middelinkomste-behuisingsprojek agter die Alma-kliniek.
Oor die beweringe dat vyf erwe aan 'n buitelander verkoop is, sê Venter: "Volgens ons rekords het almal wat erwe gekoop het ten tye van die koop voldoen aan die [raad se] kriteria. Die betrokke erfnommers aan ons gegee en al vyf die erwe is aan verskillende persone verkoop. Al vyf eienaars is ook telefonies gekontak en het hul bevestig dat hul na voltooiing van die huise in die huise gaan woon, soos per koopvoorwaarde." Ccelgro bevestig dat die maatskappy hoegenaamd geen betrokkenheid by die vyf erwe ter sprake het nie. Die erwe is deur die minisipaliteit verkoop en word onafhanklik ontwikkel.
'Aantygings ongegrond'
Namens Ccelgro het die projekbestuurder, Pierre Bezuidenhout aan die Advertiser gesê die "aantygings is ongegrond en Ccelgro [is] baie teleurgesteld aangesien ons alles volgens tendervoorwaardes hanteer het. Munisipale amptenare is verantwoordelik vir elke transaksie en het die koper gevalueer volgens voorskrifte.
Geen koper is afgeteken deur ons [Ccelgro] nie, maar deur die amptenare van die munisipaliteit, wat van alle relevante dokumentasie voorsien is."
Bezuidenhout het bygevoeg dat Ccelgro die projek met minimale wins hanteer het; "alles was vir almal beskikbaar om te evalueer."
Hy sê Ccelgro Projects is 'n maatskappy wat vir meer as 20 jaar betrokke is by hierdie tipe ontwikkelings en is 'n gerespekteerde rolspeler. Volgens Bezuidenhout is die minimumprys vir 'n 47 vkm huis, erf ingesluit, sowat R418 000. "Daar is geen kommissie nie, dit is boukoste en prokureurskoste en dies meer. Ons hanteer verkope in-huis, soos per tenderspesifikasies gestipuleer." Bezuidenhout het bevestig dat geen verdere erwe beskikbaar is nie aangesien daar reeds vir alle erwe aansoeke by finansiële instellings ingedien is.
Die munisipale bestuurder, Colin Puren (044 606 5000) nooi aansoekers wat oor bewyse van ongerymdhede beskik om onverwyld met hom te skakel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'