GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Gemeenskapslede van Groot-Brakrivier het vanmiddag, 22 Desember, by Suiderkruis bymekaargekom om hul ongelukkigheid oor sekere maatreëls wat onlangs daar geïmplementeer is, uit te spreek.
Daar is onlangs versperrings in die pad na Suiderkruis se strand asook die dagbesoeker-area geplaas, waar motors deursoek word vir alkohol.
Tydens die bymekaarkoms het verskillende inwoners van die area hul kommer uitgespreek oor die stand van sake by Suiderkruis.
Die gemeenskap is ongelukkig oor onder meer die versperrings wat toegang tot die strand/dagbesoeker-area beheer, kameras wat inbreek maak op hul privaatheid, asook die feit dat hierdie maatreëls volgens hulle net op sekere plekke geïmplementeer word.
Hulle wil weet watter magte het die wagte wat hulle voertuie deursoek en vereis dat die versperrings onmiddellik verwyder word.
In terme van die kameras sê hulle veral kinders word blootgestel, aangesien hulle dikwels in die area ander klere sal aantrek ná hulle geswem het.
'n Gemeenskapslid spreek ander inwoners by Suiderkruis toe.
Hulle meen ook die gemeenskap is nie geken in hierdie besluite nie en dat dit hulle menseregte skend, asook dat die maatreëls gelyk is aan dié van Apartheid.
Hulle beweer dit is spesifiek hulle areas wat geteiken word en dat alle areas nie oor dieselfde kam geskeer word nie.
Hulle sê ook hulle is al vir jare lank daar sonder kwessies en nou is daar skielik nuwe maatreëls.
Daar is tydens die vergadering ‘n komitee verkies wat sal poog om ‘n vergadering met die burgemeester, Dirk Kotzé, te belê, waarna hulle more om 10:00 weer op dieselfde plek sal vergader om terugvoering aan die res van die gemeenskap te gee.
Mossel Bay Advertiser het 'n navraag aan die Mosselbaai-munisipaliteit gerig waarin die gemeenskap se klagtes voorgelê is asook 'n vraag oor die toepaslike wetgewing waarop hierdie maatreëls gebaseer word.
Kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’