MOSSELBAAI NUUS - Lede van die gemeenskap is aangemoedig om deel te neem aan 'n optog om 'n petisie te oorhandig by die KwaNonqaba-polisiestasie in 'n poging om beter werksomstandighede vir polisielede te beding.
Hoewel hierdie oproep tot aksie verlede jaar op die oog af eers momentum begin kry het, is die petisielys glo reeds 2 000 handtekeninge sterk, aldus raadslid Rosina Ruiters, verbonde aan die Mosselbaai-munisipaliteit, asook die Tuinroete-distriksmunisipaliteit.
Ruiters is van die organiseerders van vandag, 22 November se optog. By navraag oor die stappery, sê sy egter onomwonde dat die optog nie-polities van aard is.
"Die organiseerders is betrokke by die buurtwagte van beide Civic Park en Highway Park asook ander en wil juis daarom op hierdie manier verdere ondersteuning aan beide die gemeenskap en die polisie bied." Sy meen vanweë die omstandighede by die stasie, word dienslewering aan die gemeenskap nie ten volle gelewer nie.
"Dis 'n bekende feit dat die polisiestasie 'n uitgestrekte bedieningsarea en baie uitdagings het." Sy verwys na 'n tekort aan mannekrag en ook die beskikbaarheid van patrollievoertuie om klagtes by te woon.
Die Mossel Bay Advertiser het in die verlede, etlike kere oor die toestande by die stasie berig en was ten tye van beriggewing met verskeie departemente in gesprek om kommentaar in te win. Steeds blyk dit of die situasie onveranderd bly.
Volgens raadslid Niklaas Booisen, nog een van die organiseerders wat ook by buurtwagbedrywighede in die stasie se bediendingsare betrokke is, het die Mosselbaai-munisipaliteit reeds grond toegeken vir die bou van 'n nuwe polisiestasie. Die stuk grond is geleë op Adriaanslaan, KwaNonqaba, langs die kwanonqaba mall.
"Ons gaan vandag om 15:00 byeenkom op die stuk toegekende grond en stap dan na die polisiestasie waar ons die petisie gaan oorhandig. Ons gaan ook verder deurgee op 'n nasionale vlak. Genoeg is genoeg," meen Booisen.
Aangesien die KwaNonqaba-polisiestasie so 'n uitgebreide bedieningsarea het, nooi ons alle gemeenskappe om by ons aan te sluit. Dra swart en stap saam," nooi Ruiters.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'