MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Frog Rock-woonstelle by die Punt het met groot hartseer afskeid geneem van hulle geliefde tuinier wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie.
Edion Jacobus Duitsjan (47) is op 3 Julie aan longkanker oorlede en is op 10 Julie in Herbertsdale te ruste gelê.
Inwoners van Frog Rock beskryf hom as 'n bedagsame en behulpsame mens.
Bo en behalwe sy werk by die woonstelgebou, het hy ook in sy privaat kapasiteit tuinwerk by Santos Haven gedoen.
Hy is in 2020 met longkanker gediagnoseer en het in September chemoterapie gekry. Sy gesin het hom die afgelope twee maande tuis op Herbertsdale versorg, waar hy sy laaste dae deurgebring het. Edion het selfs ten tye van sy kankerstryd nooit sy vaderlike pligte versaak nie.
Plaaslike painis, Annette Strydom wat ook 'n inwoner van Frog Rock is, het tydens Edion se begrafnis begeleiding gedoen en ook spontaan 'n huldeblyk gelewer. Sy beaam dat hy altyd vriendelik en behulpsaam was.
"Hy het altyd my motor gewas en was 'n netjiese en vinnige tuinier. In sy kantoortjie langs die posbusse, het die Bybel altyd oop op sy lessenaar gelê. Ons het altyd 'n geselsie oor Johannes 10:10 aangeknoop."
Hy laat sy vrou Christine en seun, Noah (9) agter.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'