GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Groot-Brakrivier Sekondêre Skool is in rou gedompel na hulle hul A-span rugbyafrigter, Marius Fourie, gister aan die dood moes afstaan tydens hul FNB Classic Clashes wedstryd teen Hoërskool Sao Bras.
Die wedstryd het deel gevorm van ‘n geskiedkundige dag van rugby en netbal tussen dié twee skole op 24 Augustus - 'n dag waarna beide skole baie uitgesien het.
Volgens die skool het Coach Fourie, soos hy vir hulle bekendstaan, net voor die A-span sou opdraf in die kleedkamer tussen die spelers inmekaar gesak.
“Paramedici op die toneel het hom dadelik behandel, maar hulle kon hom nie bybring nie. Hy is in die kleedkamer dood verklaar. Die wedstryd is dadelik afgelas,” sê Groot Brak se sporthoof, Peter Smith.
Fourie het aan die begin van die jaar die leisels van die A-span oorgeneem en was geliefd onder die spelers in sy span.
Hy het nie net op die sportveld sy staal getoon nie, maar ook by die bemarking van die skool.
Volgens Desmond Speelman, die skoolhoof van Groot Brak, was Coach Fourie amper deel van die personeel so gereeld was hy daar.
“Coach Fourie laat ‘n groot leemte en sal beslis gemis word. Hy het ‘n groot impak op die spelers gehad en het hulle weer laat glo in hulself,” sê Smith.
Smith sê die tragedie is nog moeilik om te verwerk. Die skool sou komende naweek aan Gerrit du Plessis se sporttoernooi op Riversdal deelgeneem het, maar het besluit om te onttrek uit respek vir Coach Fourie en sy familie.
“Mag sy pragtige siel sag en in ewige vrede rus.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’