MOSSELBAAI NUUS - 'n Besoeker aan Mosselbaai het aan die Mossel Bay Advertiser dié foto en 'n video gestuur van 'n bus wat op Donderdag, 9 Mei, op die N2 naby Albertinia verskeie voertuie, insluitend 'n vragmotor, verbygesteek het, ondanks die sperstrook.
Volgens Martha van Zyl, wat hier op Mosselbaai gekamp het, was hulle op pad terug Wellington toe, toe hulle die onverskillige busbestuurder op video en foto vasgevang het. Van Zyl sê dit het vir haar gelyk of daar kinders in die bus was.
"Sulke onverantwoordelike bestuurders stel lewens in gevaar en nie net die persone in die bus nie, maar ook ander padgebruikers wat in ons voertuie op dieselfde stuk pad is," vertel Van Zyl.
Moderne tegnologie, wat insluit selfone, geslote kring-televisiekameras, paneelbordkameras (dashcams), en natuurlik Facebook en ander sosiale media, gee die gewone burger die geleentheid om onverskillige gedrag aan die lig te bring. Nou word dit egter al hoe moeiliker vir Jan Alleman om die wet te oortree sonder om moontlik iewers op sosiale media te verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’