MOSSELBAAI NUUS - Lede van die Memorable Order of Tin Hats (MOTH) van die Blaize Away MOTH Bomgat, het Sondag, 26 Mei, 'n gedenkparade by die Cenotaaf aan die Punt op Mosselbaai gehou ter ere van alle lede van die Suid-Afrikaanse Veiligheidsmagte, wat die hoogste prys betaal het in militêre optredes aan die Namibiese grensoorlog en in ander buurlande tussen 26 Augustus1966 tot 21 Maart 1990.
Verskeie operasies onder andere Operasie- Savannah, Reindeer, Askari en Protea is in dié tydperk uitgevoer waarin menige soldate hul lewens verloor het.
Ongeveer 2700 soldate het hulle lewens opgeoffer vir die land in dié tydperk. Cobus Vos was tydens die geleentheid die parade bevelvoerder.
Raadslid Anton Dellemijn, ook 'n militêre veteraan, het namens die munisipaliteit blomme gelê by die geleentheid.
Sy vrou, Annemarie, het die skriflesing behartig. Vier Mosselbaaiers wat tydens die Namibiese oorlog omgekom het, se name verskyn ook op die Cenotaaf.
Hulle was skutter G Gainsford, sersant BZ Gericke, sersant A Kees en weerman JR Matthee.
Raadslid Anton Dellemijn skud blad hier met Gottfried Wrede, wat Dinsdag, 28 Mei, 80 geword het. Hy is Blaize Away se oudste MOTH-lid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’