MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Kaap Fynproewersgilde en hulle gaste kom op Donderdag, 7 Maart om 09:00 by die Kobus Hattinghsaal in Glentana bymekaar. Tydens hierdie geleentheid gaan kennis gemaak word met die shiitake-sampioen en die veelsydige gebruike daarvan.
Die demonstrasie sal deur Charlene van Niekerk van SharLeBel-sampioene behartig word.
SharLeBel kweek shiitake-sampioene en hulle visie is om 'n kookkunservaring te skep wat boonop 'n fees vir die oog sal wees. Die geregte wat gedemonstreer gaan word, is 'n gepiekelde shiitake-sampioen-, aarbei-en-swartwoudhamslaai bedien met 'n shiitake-sampioen-en-songedroogde-tamatiebeskuitjie.
Dit word gevolg deur polenta-sirkels bedien met aspersies, soet-en-suur-shiitake-sampioene en parmesankaas.
Die hoofgereg is pêrelgort met 'n shiitake-sampioen-salsa bedien op 'n swart hummus met gepiekelde soetrissie-en-gerookte shiitake-beskuitjie. As nagereg word vrugtesjokoladestukke met ment gedemonstreer. Daar word afgesluit met shiitake-biltong. Letterlik en figuurlik 'n mondvol.
Charlene gaan die wyne van Houtbosch-wyne te proe aanbied om hierdie geregte te komplementeer. Hierdie wyne is uit die kelders van ons plaaslike wynmakers in George.
Moenie hierdie geleentheid misloop nie. Die passie van hierdie mense is aansteeklik. Gaste is hartlik welkom. Kontak Elaine Louw (083 263 5417) om jou plek te bespreek. 'n Kaartjie se koste is R170. Alle belangstellendes word genooi om by die gilde aan te sluit. Hulle slagspreuk: "Niemand hier is kenners nie. Ons leer almal gesellig saam."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'