MOSSELBAAI NUUS - Dit was 'n ware lentebruiloffees vir die Suid-Kaap Fynproewersgilde en hulle gaste op 6 September in die geselskap van sjef Michelle du Preez van Bon Cap Wedding Venue (Robertson). Die tafels, versier met krone en loof, het bygedra tot die atmosfeer en daar is ook 'n pragtige spesiale troutafel gedek deur Wilma Vermeulen en Dina Pheiffer.
Sjef Michelle het veral beïndruk met die talle wenke en kortpaaie wat sy gedeel het waneer 'n mens op groot skaal onthaal en waar tyd 'n faktor is. Natuurlik ook wanneer 'n gasvrou saam met haar gaste wil kuier en nie die hele tyd in die kombuis doenig wil wees nie. Al die geregte is besonder keurig opgedien en was 'n smaaksensasie.
Sy het die demonstrasie begin deur stap vir stap te verduidelik hoe om 'n hoender te ontbeen en 'n roulade voor te berei. Die hoender-roulade is keurig opgedien met 'n aartappelkoekie (gegeur met mascarponekaas en pangebraaide ui), salsa en gemarineerde murgpampoentjielinte en dit was besonder geurig en baie ekonomies. Daarna het sy al die stappe gedemonstreer om 'n troukoek te maak.
Eers is die lae wortelkoek opmekaar gestapel met roomkaasversiersel tussenin en daarna met die grootste presisie bo-op en langs die kante toegesmeer. Hierna het sy verskillende versiertegnieke gewys – van die rangskikking van natuurlike produkte tot die afdrup van ganache en vele meer.
Die tafels was keurig versier met krone en loof en het bygedra tot die atmosfeer.Foto: Tersia Marais
Laastens het sy gedemonstreer hoe om makrolletjies en gespinde suiker te maak. Die sjokoladetert is feestelik opgedien met 'n makrolletjie op 'n roomrosie (gegeur met vanielje en joghurt), 'n groot bederf vir al die soettande.
Die wyne wat sjef Michelle gebruik het om hierdie geregte te komplementeer was The Ruins Pinotage (2014) en KWV Chenin Blanc. Hierdie was 'n uithalerdemonstrasie en die fynproewers het verryk en begeesterd huiswaarts gekeer.
Die sjokoladetert is feestelik opgedien met ‘n makrolletjie op ‘n roomrosie.
Foto: Tersia Marais
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'