Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Sedert die Fragrance Fees in 2015 onder die leiding van Nelma Ruschioni van stapel gestuur is, het daar soveel opwindende nuwighede deel van die fees geword wat alles tot die sukses en groei van hierdie unieke geleentheid bygedra het.
Die 2018-fees het verlede Saterdag in eg Mosselbaaise weersomstandighede plaasgevind.
Ou gunstelinge was die vroegoggend voëlstap by the Pink House saam met bekende voëlkyker Ian David Alsworth-Elvey en die aromatiese Brothers-koffieroostery; die gewilde Hap-en-Staproete by Hakuna Matata; die vriendelike inwoners van Friemersheim wat hul tuisgemaakte produkte langs die hoofstraat bemark; die pragtige proteas van Santa Bonné-proteaplaas en die Volkwyn-familie wat onder die bome by Die Kraal feesvier.
Vir die manne het die besigtiging van Kobus Halliday se veteraanmotors, so 'n nostalgiese blink in die oog laat kry.
Kinders het oral gelag en gespeel terwyl mammas en oumas na die handgemaakte ware gekyk het.
Oupas het op kratte gesit met koffie en 'n eetdingetjie in die hand en die bedrywighede gadegeslaan.
Pannekoek, afval, tertjies, vars brode en die allerheerlikste versnaperinge kon oral geniet word.
Nuut op die roete was die oopstel van The Art Farm waar kunstenaar Michelle Batchelder verskeie kunswerke van plaaslike kunstenaars, saam met haar eie unieke skeppings uitgestal het.
Sy het ook demonstrasies van haar kuns aangebied. Die bekende Kitchen Queen Chef, Karen du Plessis ook twee watertand kookdemonstrasies gehou.
Die Shweshwe Stop-projek het groot belangstelling uitgelok en veral die "proesak" het uitstekend verkoop.
Hierdie projek beloof om binne die volgende twee jaar 'n baie groot toerisme aantreklikheid te wees.
Onder die bome by Hakuna Matata, is lekker gekuier en ontspan terwyl heerlike versnaperinge geniet is. Die Hap-en-Staproete lok jaarliks meer stappers.
Isishweshwe is 'n tipiese plaaslike materiaal wat by Da Gama in die Oos-Kaap vervaardig word. Die helder kleure en unieke patrone is funksioneel en deel van Suid-Afrika se wye kulturele erfenis.
Hoewel die padwerke dalk vir sommige 'n hindernis was, het die mense wat wel die ompad na Die Kraal aangedurf het, 'n kykie in die alledaagse lewe van die inwoners van Friemersheim gekry.
Die "padaanwysers" was vrolik en vriendelik en die paar stalletjies langs die pad was goed ondersteun.
Die vrolike Volkwyn-familie se jaarlikse vark-op-die-spit-byeenkoms het onder die klank van Zanah-Lee Erasmus se pragtige sangstem plaasgevind, terwyl afval en ander smulhappies onder die bome geniet is.
Allerlei vorme van kuns, handgemaakte items en tuisgebak het sinoniem geword met die jaarlikse Fragrance Fees.
Elke jaar is daar nuwe inisiatiewe wat bydra tot die fees. Meer en meer mense word betrek, en sodoende word meer voete op die feesdag opgemerk.
Daar word reeds aan die 2019-fees beplan en met groot verwagting uitgesien daarna.
ARTIKEL & FOTO'S: TERSIA MARAIS, MOSSEL BAY ADVERTISER KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'