Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Terwyl Vrouedag vir baie 'n groot bederf, inspirerende woorde en mooi aantrek behels, het een van die Mossel Bay Advertiser se vryskutfotograwe 'n veel meer opspraakwekkende roete gekies om die realiteit van etlike vroue en kinders in die Suid-Afrikaanse samelewing uit te beeld. Sy het die wrange werklikheid van mishandeling in beeld oorgedra. Die Mossel Bay Advertiser het haar 'n bietjie uitgevra.
Hoe het jy met die idee van hierdie projek vorendag gekom?
Ek het koffie gedrink by 'n vriendin, Petrusha Stander en soos ek op sosiale media rondkyk, het die idee by my opgekom.
Hoekom Vrouemaand?
Baie vroue word vereer vir wat hulle doen in die gemeenskap, maar wat van dié wat elke dag wroeg omdat hulle mans hul slaan en slegsê. Dis nie net vroue wat hieronder ly nie, maar ook kinders in sulke huise. Kinders word geboelie by die skool. Ons het hier te doen met elk dag se opstaan, al voel jy negatief.
Hoe het jy dit reggekry om die emosie uit jou modelle te kry?
Mense wys die meeste emosie, wanneer hulle seerkry. Om vir 'n volwassene vrou te vra om die emosie van woede en seer te wys, was maklik. Om dit by die kinders te bewerkstellig, was 'n uitdagiging. Vir hulle om hartseer te lyk, moes ek verduidelik. Ek het verduidelik dat wat hulle moet ervaar is soos die gevoel na 'n pakslae of straf.
Wie was almal deel van die shoot?
Ek en Petrusha het die foto's by haar huis geneem. Meryl Brown het 'n uitstekende taak van die grimering gedoen. Die modelle was Shelley Sciocatti, 'n volwasse vrou. Murphy Stander, Liam Brown en Helaina Sciocatti was die kinders wat deelgeneem het.
Waar het jy die foto's geneem en hoe lank het dit gevat?
Petrusha se sitkamer is in 'n studio omskep ons het die aand van 9 Augustus eers 22:30 klaargemaak. Soos die modelle se grimering klaar gedoen was, het ek die foto's begin neem.
Hoe het die kinders dit ervaar?
Die kinders het van die kunsbloed op hulle gesigte gehou. Hulle het kort-kort gesê: "Dit lyk scary tannie Mariska, maar dit lyk cool." Ons moes aan hulle verduidelik dat mense dikwels regtig so lyk as hulle geboelie word of wanneer mans vroue en kinders aanrand.
Meryl Brown se grimeerkuns het 'n wrang werklikheid geskep.Wat is die boodskap wat jy wil uitdra?
Al kry jy hoe swaar, staan positief op al is dit hoe moeilik. Kry jouself uit daardie situasie. Praat met iemand daaroor. 'n Dominee, 'n dokter, 'n maatskaplike werker, 'n welsynsorganisasie, 'n vriend of 'n vriendin. Maar moenie stilbly nie. Om stil te bly maak jy jouself ook skuldig. Moet dit nie toelaat nie. Staan op vir vroue- en kinders se regte. Baklei terug deur nie stil te bly nie. Gaan vertel.
Hoe het jý dit ervaar?
Om die foto's te neem, was moeilik omdat ek self 'n slagoffer van mishandeling is. Ek het hierdeur ook ander vroue bekend aan my en Petrusha se storie probeer vertel. Op die ou end, was hierdie shoot my bydrae tot bewusmaking. Dit was vir 'n goeie doel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'