MOSSEL BAAI NUUS - Daar is heelwat dinge wat op 'n paartjie se groot dag kan skeefloop, maar as jou fotograaf besluit om nie op te daag nie, is dit kortby katastrofies.
'n Paartjie wat op Saterdag, 17 Oktober op Danabaai se strand getroud is, het die fiasko beleef.
Stephne van Staden het 'n boodskap op sosiale media aan die Mossel Bay Advertiser gestuur om van hulle wedervaring te vertel.
Rondom dieselfde tyd wat die paartjie getroud is, het 'n ander man ook op die strand foto's geneem. Hy het egter is sy motor geklim en gery toe hy klaar was, maar iets het blykbaar vir hom gesê om om te draai en terug te gaan strand toe. Terug by die strand, het hy gou genoeg die bruidspaar se dilemma agtergekom en hulle begin afneem.
Eers na die huweliksbevestiging kon hulle hom van die ware stand van sake inlig. "Ons kon eers na ons trou aan hom verduidelik dat ons fotograaf nie opgedaag het nie. Hy het regtig 'n onbeskryflike goeie daad gedoen deur ons te help."
Die man, Anton Willemse wou niks in ruil vir sy weldaad hê nie.
Stephne vertel dat Anton twee ure later by die egpaar se huis gestop het en al die foto's geredigeerd by hulle kom aflaai het.
"Ek en my man kan nie genoeg vir Anton dankie sê dat hy net ingespring het en gehelp het nie. Ons wil graag hê almal moet weet watter amazing persoon hy is," het Stephne haar boodskap afgesluit.
Die Advertiser het kontak met die paartjie gemaak na hulle boodskap op sosiale media ontvang is, maar het teen druktyd nog nie verdere terugvoering op navrae (insluitend die bruidegom se naam) ontvang nie. Die Advertiser vermoed dat hulle dalk op hul wittebrood was.
Anton Willemse wat tot die bruidspaar se redding gekom en hulle troufoto's geneem het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'