MOSSELBAAI NUUS - 'n Fondsinsameling vir Antoni van Reenen word op Saterdag, 26 Oktober, gehou.
Antoni is 'n 14-jarige seun van Mosselbaai, wat sedert geboorte met epilepsie, serebrale gestremdheid en met 'n trageostomie leef en is ook rolstoelgebonde. Antoni het gevolglik daagliks aanvalle en moet deurlopend versorg word.
Die fondsinsameling vind by die Two Trees Restaurant op Groot-Brakrivier plaas, en 'n gratis optrede deur sanger Sarel Kleinhans word aangebied.
Antoni van Reenen (14). Foto: Marili van Reenen
Kaartjies is beskikbaar deur Quicket en kos R100 per persoon. Die geld wat uit kaartjieverkope gegenereer word, sal na die Antoni Smile Care Fund, 'n geregistreerde NPO, gaan. Dit sal die gesin in staat stel om die gesin met Antoni se versorging te help.
Marili van Reenen, Antoni se ma, sê die fondsinsamelingsgeleentheid is omdat die gesin finansiële bystand nodig het om behoorlik na Antoni om te sien. Die gesin het onlangs 'n versorger aangestel, wat finansieël vergoed moet word.
Kos, medikasie en Antoni se ander benodigdhede is nie goedkoop nie en die gesin wil seker maak hul kind word behoorlik versorg.
Antoni is met ’n noodkeisersnee in die wêreld gebring. Die dokters het gesê dat hy nie genoeg suurstof gekry het terwyl hy in die baarmoeder was nie, en dat hy breinskade opgedoen het.
Ná sy geboorte, het hy vog op sy longe gehad en moes in ’n broeikas geplaas word, waarna die longe ook ineengestort het en ’n verdere suurstoftekort veroorsaak het. Hy is na 'n staatshospitaal oorgeplaas, waar 'n trageostomie in die lugpyp die volgende oggend uitgevoer is. Met die gebrek aan suurstof is hy ook serebraal gestremd.
Met gereelde hospitaalbesoeke was dit gevind dat weens die inkubasie is sy lugweg tale kere beskadig en dat vog gereeld in sy longe opbou. Op die ouderdom van twee het hy epileptiese aanvalle begin kry.
Die hooffokus van die NPO is die bewusmaking van epilepsie en die versorging van Antoni.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’