VROUEMAAND NUUS - Met die hoeveelheid tyd wat onderwysers saam met leerders spandeer, het hulle ongetwyfeld 'n invloed op hierdie jong mense se lewens.
Gaynor Treurnicht (61) bevind haarself in só 'n posisie.
Dié waarnemende skoolhoof van Groot-Brakrivier Sekondêre Skool sê in haar hart is sy nog altyd 'n onderwyser. Vanjaar is immers haar 40ste jaar in hierdie uitdagende beroep.
In vroue se lewens is daar dikwels 'n unieke stel uitdagings, hetsy persoonlik of ten opsigte van 'n beroep.
Treurnicht sê in haar geval is dit 'n uitdaging om persone te laat glo dat jy in staat is om die werk net so goed soos 'n man te doen.
Maar sy het haar maniere om dié uitdaging te oorkom: "Ek glo in myself. Ek praat nie baie nie - ek doen."
Sy sê Vrouedag het beslis 'n plek in die samelewing. "Te veel vroue is in die verlede stilgemaak; gebreinspoel dat hulle minderwaardig is. Baie het glasplafonne in hulle beroep bereik net omdat hulle vroue is. So ja, Vrouedag is belangrik om aan alle vroue 'n stem en waardigheid te gee.
"Tydens my grootwordjare was daar nie vele vroue wat werklik uitgestyg het nie. Onderwysers soos me. Dawn Gelderbloem, me. Vonita Johnson en die belangrikste, my ma, Cynthia, was my grootste inspirasie.
"Hulle het my laat glo dat ek kan uitstyg."
Volgens haar is een van die grootste uitdagings wat vroue oor die algemeen in die gesig staar verskillende soorte mishandeling. Sy sê die manier om dit aan te spreek is om vroue te bemagtig om onafhanklik te wees sonder om hulle 'omgee' te verloor.
En haar boodskap aan Mosselbaai se vroue is eenvoudig: "Glo in jouself; droom groot. As jy dit glo, sal dit waar word deur aksie."
Haar eie grootste persoonlike prestasie sê sy is ma wees vir twee volwassene jong manne. Dít, en die trots wat kom wanneer leerders presteer. "Veral Afrikaans huistaal, 100% in matriek, en hulle kom dankie sê vir dit wat ek in hulle lewens beteken het."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’