MOSSELBAAI NUUS - In November sluit die Mosselbaai Kunstevereniging sy 2021 musiekjaar af met ’n konsert wat die Suid-Kaap se fenomenale talent salueer.
Fluty Shores is ’n lig-klassieke program wat immergewilde komposisies soos The Swiss Shepherd, Sleepy Shores, Doppler se Andante et Rondo en ’n tasvol ander musiekheerlikhede insluit.
Twee puik fluitspelers, Louise van Wyk-Visser en Rian Smit, tree saam met die welbekende pianis Kaléne Roux op.
Kaléne het haar BMus op Stellenbosch verwerf waar sy onder leiding van Dawid Muller (klavier) and Eva Tamassy (fluit) studeer het. Kaléne was medestigter en dirigent van die eertydse Suid-Kaap Simfonie-orkes.
Louise het ook haar BMus graad op Stellenbosch verwerf en in 2007 haar musieklisensiaat by Unisa ontvang. Sy tree gereeld op in uitvoerings en konserte. Tans is Louise die voltydse musiekhoof by Hoërskool Punt.
Rian het in 2018 sy BMus (cum laude) met die Joao Dos Santos-merietebeurs verwerf. Hy het verskeie kompetisies gewen, was ’n finalis in die Dubai Yamaha Music FZE Gulf Scholarship Program in 2018, en het meesterklasse by Raffaele Trevisani in Italië en Sir James Galway in Switzerland ontvang. Sedert 2020 is Rian ’n musiekonderwyser by Hoërskool Outeniqua.
Hierdie saluut aan ons plaaslike talent vind op Donderdag, 25 November in die Dias Museum plaas. Die konstert begin 19:30. Deure open 18:00. Bespreking is noodsaaklik. Kaartjies, teen R150 per persoon en R130 vir lede van die Mosselbaai Kunstevereniging, is by Abé Meintjes beskikbaar. Stuur 'n WhatsApp na 083 268-3718 om te bespreek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'