MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai gaan teen die einde vandeesmaand gasheer wees vir die verfilming van sommige episodes van die Nederlandse TV-reeks, Bachelorette Holland.
In samewerking met die Garden Route Film Office, wat in Mosselbaai gesetel is, het die munisipaliteit se department van ekonomiese ontwikkeling vandeesweek 'n permit uitgereik vir die verfilming van enkele episodes van die Nederlandse produksie wat onder meer tonele by die Mossel Bay Zipline, 'n seiljagvaart om die eiland en tonele by uitgesoekte wildsplase sal insluit.
Die produksiehuis, ShootAway Production, sal op 28 en 29 Februarie in Mosselbaai doenig wees om die reeks, waarin 'n vrou op verskeie uitstappies gaan voordat sy haar keuse onder die keur van hubare mans maak, te verfilm.
Die Mossel Bay Zipline, het sedert dit vroeër vanjaar in bedryf gestel is, reeds groot internasionale aanhang by avontuursport en adrenaliengedrewe uitstappies ontwikkel. Daarbenewens bied Mosselbaai, bekend vir die beste munisipaliteit in die land, nou ook die geriewe van die Garden Route Film Office wat rompslomp vir filmmakers tot die minimum beperk.
"Die filmbedryf in die Tuinroete kan groei en bevorder word deur die unieke en diverse kombinasie van ligging, gerieflike toegang en die 'filmvriendelike'-ingesteldheid van die Mosselbaai-munisipaliteit te benut om die groeipotensiaal van die streek te ontsluit," sê Gwynnefer Harding, Mosselbaai-munisipaliteit se bestuurder vir ekonomiese ontwikkeling.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'