Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Kersfees was dalk vanjaar 'n bietjie anders as tydens vorige feesseisoene, maar dit het die oues van Benevolent Park nie koudgesit nie.
Daar is behoorlik Kersfees gevier te midde van die strenger inperkingsmaatreëls wat weereens senior burgers se vryheid van beweging buite die tehuis aan bande gelê het.
Met die Kersete was dit die eerste keer in 10 maande dat die inwoners weer kon saameet, te midde die Covid-19-maatreëls wat steeds eerbiedig is. Die inwoners het self geld ingesamel en het toe op Oukersaand, 24 Desember sap en koekies saam geniet.
Van die geld is gebruik om Kersgeskenkies aan die personeel te gee wat op Kersdag moes werk.
Op Kersdag het van die inwoners Kersliedere by die siekeboeg gaan sing en daar is afskeid geneem van een van die kokke wat na 21 jaar diens afgetree het.
Fotogalery: Benevolent Park Kersete
Die inwoners het 'n geskenk aan haar en ook 'n ruiker aan die sentrumbestuurder, Kitty Thiele oorhandig. Dit was 'n blyk van waardering vir Thiele se leiding tydens die Covid-19-pandemie en is aan haar oorhandig deur sr Catherine Bhana, 'n bekende afgetrede verpleegkundige en inwoner van die tehuis. Bhana is op Vrydag, 15 Januarie oorlede.
Die inwoners het 'n spoggerige driegang maaltyd tydens hulle Kersete geniet en selfs die Kersboom was vanjaar die produk van kreatiewe denke toe motorbande gebruik is om iets feesteliks te skep.
Kersliedere is by die siekeboeg gesing.
'n Kreatiewe Kersboom - saam op die foto is Kitty Thiele (sentrumbestuurder), Elise Witte en Abe Mitas (voorsitter van die inwonersvereniging).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'