Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Tydens die amptelike aanskakeling van die feesliggies tydens 'n vrolike, dog gewyde seremonie in die Harry Giddey-park, Saterdagaand 14 Desember, het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal 'n spesiale woord van welkom vir veral die ouer garde, die jongklomp en besoekers gehad.
"Vriende, die Kersliggies rondom ons is nie bedoel om net net 'n mooi indruk vir ons inwoners en vakansiegangers en 'n feestelike atmosfeer te skep nie - laat ons aan die boodskap van die geboorte van Christus dink, laat dit ons ook herinner aan die gesamentlike boodskap van liefde en gemeensaamheid wanneer ons geskenke uitruil. Geskenke behoort ook nie net iets te wees wat met geld gekoop is nie. Geskenke kan ook omgee wees, dit kan ook wees om te luister en van jou tyd te gee wanneer jou naaste jou nodig het. Mag ons in hierdie feestyd daar wees vir mekaar en die Christusboodskap uitleef," het die burgemeester gesê.
Hy het ook 'n spesiale woord van welkom vir die Wes-Kaapse LUR vir landbou, minister Ivan Meyer gehad wat die verrigtinge bygewoon het.
Ten spyte van 'n welkome ligte reëntjie wat geval het, het verskeie sprekers en optredes plaaslike inwoners sowel as besoekers aan Mosselbaai vermaak.
Die munisipale koor en 'n strykorkes het vir musiek gesorg terwyl Willy Schmidt se solosang die gaste bekoor het. Verskeie gebede is gedoen spesiaal vir kinders en families in die feestyd en pastoor kol. Mark Hartzenberg het vir die veiligheid van alle nooddienswerkers 'n gebed gedoen.
Daarna het raadsheer Levendal die feesligte aangeskakel en die verrigtinge is afgesluit met 'n samesang en gebed.
Kyk 'n video hieronder:
Raadslid Annetjie Janse van Rensburg, mev Erika Meyer en Wes-Kaapse LUR vir landbou, minister Ivan Meyer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'