Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Puik weer het beslis bygedra tot die besonderse feesatmosfeer wat tydens die eerste Robinsonspasfees geheers het.
Die fees is gehou op Saterdag, 1 Junie in Ruiterbos ter viering van die Robinsonpas se 150ste bestaansjaar.
Hooforganiseerder, Louise Nel eienaar van Ruiterbosch Lodge wat ook as die feesgronde gedien het, het voor die fees ewe tong in die kies gesê dat sy die gedagte aan 'n fees eintlik ligtelik met vriende gedeel het en dat sy toe te danke aan haar bravade, die plan wel uiteindelik moes deurvoer.
Te oordeel aan die oorweldigend positiewe kommentaar op sosiale media na afloop van die fees, is dit duidelik dat die Robinsonpasfees gekom het om te bly. Feesgangers was gaande oor die aktiwiteite, die stalletjies, die vermaak en dies meer. Riaan Jordaan, wat ook op die feeskomitee gedien het, het by navraag vandeesweek beaam dat die volgende fees vir die eerste naweek in Junie, reeds op die kalender aangeteken is.
Ten spyte van die vars winterluggie, het ongeveer 60 siele aan die vroegoggend pretdraf deelgeneem. Altesaam 25 ou trekkers en vintage-motors is uitgestal en 35 stalletjies het 'n groot verskeidenheid lekkernye, drinkgoed en ander interessantehede te koop aangebied. Die kinders het hulle harte uit gespeel en die trekkerritte het groot aftrek gekry onder die jongklomp. Die grootmense het hulle sommer vroeg al voor die verhoog gaan tuismaak met 'n drink dingetjie en die deurlopende vermaak geniet.
Raadsheer Harry Levendal, uitvoerende burgemeester en geriatriese glanspersoon, Aunt Ethel is deur Cobus Krous van Mossel Bay Helicopters per helikopter by die fees afgelaai, vir die amptelike opening.
Raadsheer Levendal het die gemeenskap van Ruiterbos, veral die feeskomitee gelukgewens met hulle inisiatief om die fees op die been te bring. Hy het hulle geloof vir hulle ondernemingsgees en gesê dat dit beslis 'n voorbeeld vir ander gemeenskappe binne die groter Mosselbaai behoort te wees.
Claude Pretorius het as programleier opgetree en die dag is afgesluit met 'n tradisionele mandjiedans, wat goed bygewoon is.
Kyk 'n video hieronder:
Aunty Ethel en Terence Taylor wat 'n ogie oor die "ou dame" gehou het tydens die fees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'