MOSSELBAAI NUUS - Die 24-jarige Farren Sky Jacobs is op Woensdag, 26 April, as ambassadeur aangewys in die Koningin van Internasionale Toerisme kompetisie wat in die toerisme-hoofstad, Pagsanjan in die Fillippyne gehou is.
Farren is 'n gebore en getoë Mosselbaaier en vertel dat sy nog altyd daarvan gehou het om op die loopplank te pronk en vir die kamera haar allerbeste glimlag te flits.
Finaliste is in vier verskillende kategorieë beoordeel naamlik, Ambassadeur-, Wêreld-, Heelal- en Internasionaal.
Behalwe die Ambassadeur-titel, het Farren ook die Mej Gewildheidkategorie gewen en was sy naaswenner in die talentkompetisie. Die kroningsgeleentheid is tydens die Bangkero-toerismefees gehou en het groot belangstelling van besoekers en bekendes van regoor die wêreld gelok.
Farren het 'n onderwysgraad in Gqeberha verwerf en hou skool by Erika Primêre skool op Mosselbaai waar sy self haar laerskooljare deurgebring het.
"Om terug te keer Mosselbaai toe na vier jaar van studie in PE, was 'n ware tuiskoms, en daar is geen beter plek om terug te gee as die skool waar my eie lewensgrondslag gelê is nie. Dit het nou 'n volle sirkel geword, en is een van vele hoogtepunte in my lewe," sê sy.
Farren is die dogter van pastoor Fostino Jacobs en sy vrou, Christine, en is een van drie dogters wat in Heiderand groot geword het en diep betrokke is in dié gemeenskap.
"Die groot taak om bewusmaking te skep begin nou – nie net om Mosselbaai as die ikoon van die Tuinroete te bevorder nie, maar ook ons land en alles wat dit bied.
"My ervaring in die Filippyne is een wat ek nooit sal vergeet nie, veral omdat ek so trots is op waar ek vandaan kom. Ek kan nie genoeg daarvan kry om mense van ons wonderlike dorp en land te vertel nie."
Farren is 'n verdienstelike ambassadeur en inderdaad 'n ikoon van Mosselbaai in eie reg. Die gevoel is bevestig deur die dorp se toerismespan en uitvoerende burgemeester, Dirk Kotzé, wat Farren geloof het vir haar prestasies.
Farren Sky Jacobs tydens die kompetisie, wat in die Fillippynse toerisme-hoofstad, Pagsanjan, gehou is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’