MOSSELBAAI NUUS - Vier jaar nadat hulle seun by 'n wegneem-eteplek in Voorbaai 'n fatale meswond toegedien is, het die Jouberts steeds geen afsluiting nie.
Lee Roy Joubert (27) is op 30 Julie 2017 om 03:55 voor KFC in Voorbaai met 'n mes gesteek. Vriende wat saam met hom op die toneel was, het hom na die Mosselbaai provinsiale hospitaal gehaas, maar hy is daar dood verklaar.
Die moordverdagte, wat volgens inligting in 'n CAW-geregistreerde voertuig van die toneel ontvlug het, Ayanda Mangeni is later in hegtenis geneem en op borgtog van R500 vrygelaat.
Iris Joubert, Lee Roy se ma het met die vierde herdenking van haar seun, wat by hulle aan huis gewoon en in sy pa, André se besigheid werksaam was, met die Mossel Bay Advertiser gesels.
"Dit is vandag vier jaar van Lee Roy wreed van ons as familie weggeneem is. En sy moordenaar het R500 borg gekry. Hoe is dit moontlik? Die saak word telkens uitgestel. Die justice sisteem het ons lelik gefaal," sê Iris.
Sy het haar persoonlike rekords van die hofsaak tot dusver aan de Advertiser beskikbaar gestel waarin die verskeie hofdatums, asook haar navrae omtrent die saak aangeteken is.
Van haar inskrywings lui dat van die hofverskynings nie kon plaasvind nie aangesien die beskuldigde se regsverteenwoordiger minstens twee keer nie by die hof opgedaag het nie. Sy kla ook daaroor dat sy gereeld oproepe moet maak om haarself op hoogte van die ondersoek te hou.
"My seun het soveel drome gehad en gewerk vir wat hy in die lewe wil hê. Hy het nie met 'n mes of enige ander wapens in sy sak geloop nie. Maar hy word met een hou doodgesteek. Daar is soveel ouers wat hul onskuldige kinders aan die dood moes afstaan. Nie deur siekte nie, maar aan die hande van moordenaars. Ons treur nog oor Lee Roy. Hy was 'n pragtige, netjiese jong man."
Navrae is aan die Da Gamaskop-polisie gerig. Volgens kapt Wollie Fourie, die kommunikasiebeampte het die ondersoek-beampte besondere moeite gedoen om Joubert se vermeende moordenaar vas te trek. "Ons het begrip vir die familie se frustrasie, maar dit moet binne rekening gebring word dat die polisie se magte in die regspraak beperk is."
Hy het ook daarvan melding gemaak dat die ondersoekbeampte die beskuldigde se borgtog vurig teengestaan het, maar nie die beslissingsmag in terme van die bepaling van borgtog het nie.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'