MOSSELBAAI NUUS - 'n Agt-en-twintigjarige man is in April in hegtenis geneem en voor die hof gebring op 'n aanklag van moord wat volg uit die dood van Lee Roy Joubert (27) in Julie 2017. Joubert het beswyk vanweë 'n meswond nadat hy en 'n onbekende man voor die KFC-eetplek in Voorbaai in 'n onderonsie betrokke geraak het. Die voorval het omstreeks 03:55 op 30 Julie plaasgevind.
Verdagte onbekend
Volgens inligting, het die beskuldigde na die voorval met 'n CAW-geregistreerde voertuig van die toneel gevlug. Verdere inligting rakende die identiteit van die man wat Joubert na bewering met die mes gesteek het, was onbekend.
Tydens die ondersoek is bevind dat die man in 'n gehuurde voertuig gevlug het. Nadat verklarings verkry en opsporingstelsels gebruik is, is die verdagte man se naam bekom. Inligting het aangedui dat hy op 31 Julie, 'n dag na die voorval Paarl toe gevlug het.
Die ondersoekbeampte in die saak, sers Donovan Geswindt het inligting bekom dat die verdagte in Augustus 2017 in Knysna op 'n ander klag voor die hof sou verskyn. 'n Poging om die verdagte in hegtenis te neem is egter gefnuik.
In September 2017, het die polisie in Worcester op die verdagte toegeslaan toe hy daar in die hof verskyn het op nog 'n ander klag. Die polisie het op sy selfoon beslag gelê sodat hy deur middel van 'n analise van sy selfoonrekords, met die voorval by KFC, Voorbaai verbind kon word. Hangende die uitslag van die verslag, kon die man nie in daardie staduim in hegtenis geneem word nie.
Op grond van 'n kundige in selfoondata-analise, ao Annamarie van Niekerk van Worcester, se bevindinge, is die verdagte tydens 'n hofverskyning op Worcester op 12 April deur sersante Deothine Vaas, Geswindt en ao Van Eyck van Da Gamaskop- polisiestasie in hegtenis geneem.
Hy het op 16 April in die Mossebaai-landdroshof verskyn en 'n geslaagde borgaansoek gebring op 26 April.
"Ek is glad nie tevrede met hoe die proses tot dusver verloop het nie," het die oorledene se pa, André Joubert vandeesweek by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'