MOSSELBAAI NUUS - Ofskoon Danabaai deel vorm van die groter Mosselbaai-munisipaliteit, is dit eintlik 'n dorp binne 'n dorp.
Met 'n mini-supermark, bakkery, slaghuis, verskeie eetplekke en drankwinkels, 'n vulstasie en verskeie ander besighede, is Danabaai 'n selfonderhoudende gemeenskap van sy eie. 'n Verskeidenheid bed-en-ontbytgeleenthede is ook beskikbaar.
Maar wat van Danabaai nog meer besonders maak, is die feit dat die area 'n verskeideheid van vrylopende diere huisves. Dit is niks ongewoon om bosbokke, muishonde, skilpaaie, ystervarke, tarentale en Kaapse fisante in jou tuin te vind nie.
As jy gelukkig genoeg is, kan jy selfs 'n grysbok raakloop. Slange is natuurlik ook deel van die natuur en die Kaapse kobra en pofadders is nie ongewoon nie.
Gedurende die somermaande veral, is die sonsondergange absoluut pragtig. As 'n erkende bewaringsarea is dit oortrek met fynbos terwyl kalksteenvariëteite ook aan die kus aangetref word.
Daar is ook 'n ryk geskiedenis met betrekking tot die Khoisan-mense, wat in dié omgewing 'n tuiste gevind het.
Argeologiese bevindings oor dié geskiedenis dateer terug tot ongeveer 175 000 jaar gelede.
Bron: Wikipedia
"Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’