Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit het onlangs gepas erkenning gegee aan hul personeel wat oor etlike jare deur hul lojale diens aan die plaaslike owerheid bygedra het tot 'n navolgenswaardige diensingesteldheid.
"Hierdie funksie is 'n opregte erkenning aan kollegas vir hul lojaliteit, hardwerkendheid oor tientalle jare, hul opofferinge om hul diens getrou te lewer, en hul onbaatsugtigheid," het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal tydens die spoggeleentheid in die stadsaal op Woensdag, 6 Desember gesê.
"Wanneer die Mosselbaai-munisipaliteit spesiale toekennings en eerbetoon ontvang, is dit toe te skryf aan die toewyding en volgehoue uitnemende diens van elkeen verbonde aan die munisipaliteit.
Dit is net gepas dat elkeen verbonde aan die munisipaliteit, maar veral u wat oor die jare heen 'n spesiale band met onvervangbare institusionele kennis en ervaring opgebou het, die dank en erkenning kry wat u verdien.
Ek is deeglik bewus van die ywer waarmee u elk hierdie kennis en ervaring met die jonger werknemers deel, en ek dank u ook daarvoor," het die burgemeester bygevoeg.
Mosselbaai se munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het die personeel, wat te midde van toenemende druk en verwagtinge op selfs beter diens die uitdagings aanvaar om met toewyding te werk, vir hul ywer gelukgewens.
Raadslede, die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee en die direkteure wens die drie personeellede wat elk met 30+ jare se diens spog, Martin van der Mescht, Samuel Rhode en Leonard Joseph, van harte geluk. "Dis toewyding en lojaliteit soos hierdie dat Mosselbaai gepas die Kwêla Dorp van die Jaar is".
"Wees verseker, die munisipaliteit is bevoorreg om personeel te hê van die hoogstaande gehalte waaraan julle voldoen."
Die gaste, wat benewens die personeel en hul metgeselle ook raadslede en die direkteure ingesluit het, het heerlik gekuier en is verras met 'n optrede deur die Coffee Snobs, 'n musiekduo wat hulle onlangs in Mosselbaai gevestig het.
ARTIKEL & FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'