MOSSELBAAI NUUS - Ná 43 jaar se onderwys het Charmaine Maart die klaskamer vaarwel geroep. Noudat sy onlangs afgetree het, geniet sy haar welverdiende rus by die huis saam met haar gesin.
Maart (65), ’n gebore en getoë Mosselbaaier, is sedert 1985 aan die onderwys toegewyd.
Haar reis het eers by die destydse Hartenbos NG Primêre Skool begin, in die gebied wat nou as die Hartenbos Heuwels bekend staan.
Vandaar het sy in ’n saal in die Sonskynvallei skoolgehou, voordat sy uiteindelik ’n tuiste by Erika Primêre Skool op Mosselbaai gekry het, waar sy tot nou toe ’n gr. 2-onderwyser was.
Deur die jare het sy baie mense deur die skool gesien kom en gaan, beide kollegas en leerders. Sy sê as sy terugkyk, was dit ’n hoogtepunt om te sien hoe haar voormalige leerders sukses in die lewe behaal het.
“Hulle was blink sterre in my klaskamer - baie het uitgestaan.”
Maart beskryf haarself as iemand wat altyd aan die gang is, en wat dit geniet om uit te gaan. Haar aftreeplanne sluit ’n toer deur Suid-Afrika en hopelik ’n staproete of twee iewers in ’n oorsese land in.
Al kan onderrig moeilik, tydrowend en uitputtend wees, sê Maart sy het dit geniet om soggens op te staan om skool toe te gaan. Haar kollegas het soos familie geword; sy sê hulle is wie sy die meeste gaan mis.
Maart het verlede jaar erkenning by die Langdienstoekenningsaand, aangebied deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement, gekry. Dié geleentheid vier diegene wat wat 20, 30 en 40 jaar se toegewyde diens verrig het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’