MOSSELBAAI NUUS - Friemersheimers het die afgelope naweek in getalle by die gemeenskapsaal byeengekom om Erfenisdag te vier met geen tekort aan vermaak nie.
Tydens die feesvieringe het die plaaslike talent 'n kans gekry om te wys waartoe hulle in staat is, terwyl ander uitvoerende kunstenaars van Mosselbaai se kant af "ingevoer" is.
Die Erfenisdagprogram is aangebied deur die Mossebaai-munisipaliteit in samewerking met MOKKA (Mosselbaai Kreatiewe Kultuurassosiaie).
Verlede jaar, het MOKKA in samewerking met die munisipaliteit, 'n soortgelyke program aangebied in die Imekhaya-skoolsaal, KwaNonqaba.
Vanjaar is daar egter besluit om die Erfenisdagvieringe na die buitewyke van Mosselbaai te neem vir groter inklusiwiteit.
Tuis op hulle bakermat, het die Gourikwa-mannekoor opgetree met gaskunstenaars uit KwaNonqaba, die Mossel Bay Harmony Voices.
Dansitems is soos altyd goed ontvang en die dansgroepe het weer uitgehaal om te wys wie se lyf die soepelste is.
Groepe en soliste het ingesluit Kingdom Kids, 3in1, Elton, D'Trix Deveraux Kiewiet met die hoogtepunt op die dansspyskaart deur die immergewilde, Snipers van Mosselbaai.
Alte spoggerig in kulturele drag by die Friemersheim-gemeenskapsaal.
Die Groot-Brakrivier Kompanie-orkes het vir 'n feestelike atmosfeer gesorg met geen tekort aan uitstaande kletsrymers insluitend Fai Y "B" (Faizel Bruintjies) en The Young One (Enslin April) nie.
Mordegai Erasmus, vorige wenner van Mossel Bay's Got Talent se optrede was soos altyd 'n wenner. Hy was vanjaar saam met die Mosselbaai-munispaliteit se Linda Saayman, 'n aanbieder tydens die program.
Mordegai is 'n boorling van die Groot-Brakrivieromgewing.
Die verhoog het 'n pragtige agtergrong geskep vir die kulturele program wat aangebied is.
'n Stampvol saal. Erfenisdagvieringe in Friemersheim was vanjaar 'n reusesukses.
Na afloop van die verskeidenheids-program, het almal gesmul aan die potjiekos wat vir die potjiekoskompetisie voorberei is.
Foto's: Athinkosi Goniwe en Romeo Wagner
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'