MOSSELBAAI NUUS - Verlede naweek op Erfenisdag, het blaasorkeste in Groot-Brakrivier byeengekom vir die tweede jaarlikse Eden FM-blaasorkeskompetisie.
Dit is die eerste keer dat blaasorkeste aan die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees deelneem. Die kompetisie was inderdaad 'n opwindende voorloper vir nog 'n orkessaamtrek, wat eerskomende naweek op 1 Oktober gehou word.
Op Sondag, 1 Oktober kom die al die All Saints-gemeentes binne die Bisdom van George se brigades by die D'Almeida Stadion byeen.
Volgens Vader Lyndon du Plessis van die All Saints-gemeente op Mosselbaai, word 10 gemeentes van regoor die Suid-Kaap verwag. Hy verduidelik dat elke brigade of dan orkes tussen 30 en 50 lede het.
Daarmee saam, bring elke gemeente ook sy ondersteuners saam vir dié geleentheid.
"Ons is trots om te sê dat die jeugkomponent binne die orkesgeledere oorwegend die grootste is. By All Saints word kinders van kleinsaf reeds in die orkeste opgeneem. Daar is die Tiny Tots, wat die heel jongste kindergroep is, dan die juniors wat fokus op laerskool kinders en die seniors, wat die hoërskool komponent is."
Vader Du Plessis vertel met trots dat die plaaslike All Saints-brigade vanjaar 102 jaar oud is. Van die oudste aktiewe lede plaaslik is Charlie en Madge Hendricks. Die egpaar dien gesamentlik reeds meer as 125 jaar in die brigade en is al onder meer deur die ATKV vereer vir hulle kultuurbydrae in dié verband.
"Ons nooi die gemeenskap om gerus hierdie sonderlinge byeenkoms by te woon. Dit is die eerste keer in baie, baie jare dat Mosselbaai die geleentheid kry om hierdie byeenkoms aan te bied."
Toegang vir volwassenes is slegs R10 en vir kinders is die koste R5.
"Die rol van die brigade is om vir seuns en dogters goeie, morele Christelike waardes en dissipline te leer. Ons sê altyd dat 'n mens nie 'n kind by die tronk moet gaan besoek nie, maar juis die ondersteuning moet bied dat 'n kind nie daar beland nie. Dit is wat die brigades doen."
Program
- 09:00 – 11:00 - Kerkdiens by All Saints Kerk
- 11:00 – 11:30 - Optog vanaf All Saints Kerk af in Mosselstraat tot by Alhof-rylaan, dan tot by Stadionstraat en na die D'Almeida Stadion
- 11:30 – 12:00 - Parade Inspeksie deur die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé
- 12:00 – 12:15 - Verwelkomingstoespraak deur die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé
- 12:15 – 18:00 - Brigade optredes
Vir meer inligting, kontak Vader Du Plessis (082 560 6890 of die kerkkantoor 044 693 3858).
Lede van die All Saints brigade.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’