Dit blyk dat sy deur 'n dakluik geval het toe sy saam met vriende op 'n gebou op die kampus se dak gesit het om na die sonsopkoms te kyk.
Haar ouers, Hennie en Amanda Cremer van Mosselbaai, sê dis 'n wonderwerk dat sy steeds leef.
Cremer (19) het sowat 12m ver deur 'n dakluik geval en op die vloer van die ingangsportaal te lande gekom.
Sy is op die toneel gestabiliseer voordat sy per helikopter na die intensiewe sorgeenheid van die Millpark-hospitaal in Johannesburg gehaas is, waar sy steeds behandel word.
René was saam met sewe ander studente wat toegang tot die dak van die J Chris Coetzee-gebou (ekonomiese wetenskappe) gekry het. René het op 'n dakluik getrap en sowat 12m ver geval.
Haar medestudente het dadelik afgeklim en 'n deur oopgeskop om by haar uit te kom waar sy op die vloer van die portaal van die gebou gelê het. Hulle het die ambulans ontbied.
Die Universiteit se eie nooddienste en welsyndienste was ook binne oomblikke op die toneel en het haar en haar vriende ondersteun.
Haar ouers het hulle Saterdag by haar in die hospitaal aangesluit. Volgens Hennie het sy 'n gebarste blaas, twee breuke aan haar bekken, gebreekte en gekraakte ribbes, 'n geskeurde nier en 'n linkerarm wat op twee plekke gebreek is. Sy het ook twee gaatjies in haar regterlong. Volgens Hennie gaan dit onder omstandighede goed met haar.
"Haar bloeddruk en temperatuur is normaal. Dit wys daar is geen bloeding nie. Daar is geen breinbesering nie, hoewel haar arm, wat Dinsdag geopereer is, steeds baie pyn en geswel is. Sy sal vervolgens geopereer word vir breuke aan haar bekken en ook 'n veloorplanting op haar arm ontvang.
"Teen Maandagaand was sy van die ventilator af en het onafhanklik asem gehaal, en het selfs jellie en sop geëet. Hoewel sy deurmekaar voorkom, kon sy met ons kommunikeer.
"Dit wat hier gebeur is 'n wonderwerk en net genade. René is ons kroonjuweel, ons jongste en ons enigste dogter."
René was tot onlangs nog gereeld 'n lewensredder op Mosselbaai se strande en sefls 'n Graad A bloedskenker.
Hennie beskryf René as 'n 'lewenslustige, uitbundige, vriendelike, lojale meisie wat alles is wat 1 Kor 13 beskryf'.
"Ons is innig dankbaar ons engelkind is ons gespaar. Hoewel 'n lang herstelpad voorlê, weet ons sy gaan 100% herstel.
Ons wil graag die Mosselbaai gemeenskap veral bedank vir hul ondersteuning en gebede," het Hennie bygevoeg.
Volgens Kiewiet Scheppel, woordvoerder van die Potchefstroom-kampus, het die ander sewe studente reeds op die toneel berading ontvang en word daar na hul welstand omgesien.
Drie van hulle is koshuisstudente en vier is private studente. Kampuspersoneel voorsien ook ondersteuningsdienste aan haar vriende wat deur die voorval erg getraumatiseer is.
Cremer se ouer broer, André, is twee jaar gelede in 'n ernstige motorongeluk op Mosselbaai beseer en is tans 'n kwadrupleeg.

Steeds 'n vegtertjie, steek René speels vir pa Hennie tong uit terwyl sy in haar hospitaalbed aansterk. Foto: Verskaf
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS