Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue (SACBW) se Mosselbaai-tak het vanoggend, 19 September, die 2025 besigheidsvrou van die jaar aangewys.
Absolut Security se Esmé Alberts het vanjaar met dié groot eer weggestap.
Die SACBW het vandag die tak se toekenningsgala aangebied waar besigheidsvroue erkenning kry vir hul toewyding en harde werk.
Die geleentheid is by die Diaz-hotel gehou waar gaste ’n heerlike ontbyt geëet het. Die tema vir die dag was ‘denim en diamante’, wat pragtig onder die gaste weerspieël is.
Vanjaar se gasspreker was Stellie Taute, bekend aan die meeste Mosselbaai-inwoners as ’n finalis in die 2025 Mev. Suid-Afrika-kompetisie en ook die eienaar van Loka Boutique.
Taute het meer oor haar gevoelens van twyfel tydens Mev. Suid-Afrika gedeel. Sy, soos baie vroue, het nie gedink sy was goed genoeg om in die kollig te wees nie, maar deur die ondersteuning van die vroue rondom haar, het sy ’n kans gevat.
“Jy is meer as goed genoeg en waardig vir alles,” was haar boodskap aan vroue oral.
Behalwe vir Alberts se toptoekenning, is ander merkwaardige vroue ook erken:
Community Warrior of the Year: Ursula van der Berg
Rising Star of the Year: Charmaine van Rooi
Social Warrior of the Year: Rene Mouton
Burgemeester Dirk Kotzé het ook by die vroue aangesluit vir hierdie spoggeleentheid.
“Dit is ons sakevroue – visionêr, vasberade en innoverend – wat gehelp het om Mosselbaai as Suid-Afrika se voorste semigrasie- en toerismebestemming te posisioneer. Hul pogings het nie net ekonomiese groei gedryf nie, maar ook ’n florerende geleentheidsbedryf aangevuur wat steeds besoekers, beleggings en geleenthede lok,” het hy gesê.
Die SACBW, geskep deur vroue vir vroue, bied ’n ruimte vir vroulike entrepreneurs wat persoonlike en professionele leiding, ondersteuning en mentorskap benodig wanneer hulle hul sakereise begin.
Die raad se doel is om vroulike entrepreneurs te bemagtig sodat hulle hul plek op die sakeverhoog kan inneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’