MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaier, Zana Mangali (26) het sy meisie met 'n elektriese koord aan haar huis se dak in KwaNonqaba probeer ophang, kort voordat hy haar onder meer twee keer verkrag het.
Die 38-jarige slagoffer, wat aan 'n vorm van dwergisme lei, was vóór die grusame aanval met Mangali in 'n verhouding.
Op Woensdag, 27 Februarie is die omstandighede van die voorval in die Mosselbaai-streekhof voor streeklanddros Makamandela onthul.
Mangali het op die betrokke dag, op 26 Maart 2017 by sy eksmeisie se huis in Solomonstraat ingegaan waarna hy haar eers aangerand het. Bure wat die geraas gehoor het, het die polisie van die gebeure in kennis gestel waarna die saak deur Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming, en seksuele misdrywe oorgeneem is.
Ondersoekbeampte, ao Tatta Marks het Mangali die volgende dag in hegtenis geneem en hom op agt aanklagte, wat verkragting en aanranding met die opset om ernstig te beseer insluit, aangekla.
Tydens vonnisoplegging Woensdag, het Makamandela, Mangali tot effektief 30 jaar en drie maande gevangenisstraf gevonnis. Hy sal dus eers na minstens 15 jaar gevangenisstraf in aanmerking kan kom vir parool.
Die slagoffer was emosioneel tydens die vonnisoplegging en het na afloop van die hofverrigtinge aan polisiebeamptes gesê dat die gebeure van daardie dag steeds by haar spook.
Sy moes intussen ook trek omdat sy nie meer in dieselfde huis kon woon nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'