Hy is gebore met spina bifida en van kleins af in 'n rolstoel, maar in plaas daarvan dat dit hom tot stilstand gedwing het, het dit hom juis besondere 'woema' gegee.
Ten spyte van sy gestremdheid was hy nog altyd in 'n normale skool en beken hy dat hy 'n vurige Cheetah-ondersteuner is. Soos enige jong man, leef hy sy begeerte om die lewe ten volle te geniet uit en dit behels dat hy al 'n paar aksie-belaaide ervarings gehad het. Hierdie belewenisse sluit bungi-spring, sweefseil, valskermsweef en selfs vryval in.
Hermann is ook in 2010 op 'n toer deur die VSA as deel van 'n leierskapgroep wat die Universiteit Vrystaat (UV) in, ondere andere, New York moes verteenwoordig. "Die feit dat ek in 'n rolstoel is het nog nooit gemaak dat ek myself jammer kry nie," vertel Hermann.
In Oktober verlede jaar het hy 'n poging aangewend om 'n Guinness-rekord op te stel vir die langste stilstaande 'wheelie' in 'n rolstoel. "Ek moes vier ure lank uithou om te kwalifiseer vir 'n rekord, maar toe druk ek sowaar deur na tien ure en een sekonde!" vertel Hermann.
Die rekord-poging was deel van die UV se eenheid vir gestremdes se tiende bestaanjaar en juis daarom is die tien ure se vasbyt vir Hermann 'n betekenisvolle prestasie. Digby die sewe ure-kerf kon en wou hy nie meer voortgaan nie, maar danksy die aanmoediging van die toeskouers het hy deurgedruk. Hy moes te alle tye twee getuies en twee tydopnemers teenwoordig hê, wat die poging moes boekstaaf. Die verslae is saam met videomateriaal aangestuur Engeland toe om die geloofwaardigheid van sy poging te bewys. Op 30 Januarie ontvang hy toe die sertifikaat wat bevestig dat hy 'n wêreld-rekordhouer is.
"Ek sê altyd vir mense; moenie kyk na wat jy nie in die lewe kan kry nie, maar na wat jy wel het. Jy moet dít dan gebruik om 'n sukses van die lewe te maak.
Al die dinge wat ek aanpak, veral die rekord is my manier om myself te toets, te sien hoe ver ek myself kan druk en wat ek alles kan bereik," sê Hermann.
Hermann het sy tydjie by Laerskool Park baie geniet omdat die opvoeders, en veral die leerders, hom so normaal hanteer het. Die dag toe hy sy proef-onderwys voltooi het, het 'n paar leerders hom persoonlik kom groet en dis toé dat hy besef - hy het homself toegewy aan die regte lewenstaak.
Hermann se oupa, Putter van Heerden, bly al sedert 1997 in die Mosselbaai-omgewing. Hy is na die afsterwe van sy eerste vrou in 2002 weer getroud met ouma Cora, en woon tans in Hartenbos.

Hermann saam met sy klas tydens sy proef-onderwys by Laerskool Park vroeër vanjaar.