MOSSELBAAI NUUS - Van 25 tot 29 November is Suid-Afrikaners versoek om 'n swart band om die arm, of enige ander vorm van roudrag te dra om die lewens van diegene te gedenk wat aan Covid-19 gesterf het *.
Dié versoek is deur President Cyril Ramaphosa tydens sy toespraak op 11 November aan die nasie gerig.
Dit kom te midde van die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders en ook, terwyl 'n tweede vlaag van Covid-19-infeksies sy tande in die Tuinroete wys.
In Mosselbaai is volgens die jongste getalle soos op 25 November ontvang, 84 mense aan dié onvoorspelbare virus dood.
Onder die Mosselbaaiers wat gedurende die vyf dae van rou met swaar harte sal loop, gedagtig aan dié wat Covid-19 van hulle kom eis het, is Rosina Ruiters, haar dogter Rozain Hansen en Lorraine Arrison.
Steeds nie siek
Lorraine se dogter, Takako Witbooi (41) het op 25 Junie in haar arms gesterf. Die pa van Takako se kinders, 'n seun en 'n dogter, het 10 dae tevore op 15 Junie in Kaapstad aan Covid-19 gesterf. "Omdat sy by die huis gesterf het, is alles dadelik daarna ontsmet."
Vir Lorraine is dit swaar dat hulle van 'n waardige en mooi begrafnis vir Takako ontneem is. "Die hantering van die liggaam, die manier hoe dit in al die plastiek toegedraai is, was ook vreemd en onpersoonlik. Gelukkig kon ek afskeid neem, ek het haar darem nog op die voorkop kon soen."
Sy het haar vir vyf maande tuis afgesonder in 'n poging om die virus te vermy en tot dusver, al was sy in aanraking met haar sterwende dogter, was sy gelukkig.
Rosina Ruiters, Mosselbaai munisipale raadslid en speaker van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se suster Finkie Scheepers sou gister, 26 November haar 61ste verjaarsdag gevier het. Sy is net meer as drie maande gelede in 'n plaaslike hospitaal oorlede.
Ruiters self was al vyf keer vir 'n Covid-19-toets en elke keer nog, was die uitslag negatief.
"Ek het die virus gevrees tot my suster se dood. Nóú is ek kwaad vir Covid. Ek bestraf die virus in Jesus se naam elke keer as ek vir 'n toets moet gaan."
Dit ontstel haar dat mense Covid-19 steeds nie as 'n werklikheid reken nie.
"Ek wens mense wil aan die erns van Covid-19 gehoor gee. Sommige laat hulle toets en beweeg dan steeds oral rond, nog voor die uitslag bekend is. Wie weet wie hulle almal in die tussentyd aansteek?"
Ruiters se dogter, Rozain Hansen het nie net haar tante Finkie nie, maar ook haar pa, Henry Scheepers (56) aan Covid-19 verloor. "Op 2 Julie het hy laat weet hy voel siek en op 4 Julie is hy dood nog voor die uitslag van sy Covid-19-toets bekend was. Die nuus het ons die aand van sy sterfdag eers bereik." In haar huis was beide haar man en dogter met die virus gediagnoseer, terwyl sy en haar ander dogter dit nie gekry het nie.
* President Ramaphosa het die slagoffers van geslagsgeweld by die dra van roudrag ingesluit. Hy het ook gesê dat die landsvlag gedurende die tydperk van rou, halfmas moet hang.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'