MOSSELBAAI NUUS - Dit is met groot opgewondenheid dat die aankondiging gemaak word dat Mosselbaai wél sy eie Eisteddfod in 2022 sal aanbied.
Toe dit bekend word dat daar nie 'n plaaslike Eisteddfod hierdie jaar beplan word nie, het verskeie kunste- en musiekonderwysers en ander betrokke partye vir ArtSpace genader om die leisels van hierdie onmisbare opvoedkundige projek te hanteer en aan te bied.
Afgesien van die musiek, woordkuns en visuele kunste, is daar hierdie jaar ook 'n danskomponent wat menige danser se hart verbly.
Volwassenes is ook baie welkom om in te skryf, veral in die visuele, musiek- en woordkunsafdelings. Inskrywings kan tussen 19 Julie en 5 Augustus aanlyn gemaak word.
Beoordeling vind by Hoërskool Punt plaas. Die datums is soos volg: musiek 22 - 26 Augustus; woordkuns 29 Augustus - 3 September en dans, 7 September.
Die galafunksie word op 10 September gehou.
Die visuele kunsinskrywings moet voor 5 Augustus by Hoërskool Punt, vir aandag van die hoof van die musiekdepartement,. ingehandig word.
Die ervare beoordelaars bestaan uit vier uitstekende kunstekenners: Philippus Hugo (musiek), Ilse Schmidt (woordkuns), Estelle McIllrath (kuns) en Joubert Jonker (dans).
Philippus Hugo het sy BMus, BMus Hons en MMus (cum laude) in klavier aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Afgesien van sy veelvuldige musiekprestaties, is hy 'n gerekende Eisteddfod beoordelaar. Sy rol by hierdie jaar se Mosselbaai Eisteddfod het alreeds groot opgewondenheid gewek.
Ilse Schmidt is 'n ervare aktrise, vertaler, eisteddfodbeoordelaar en eksaminatrise. Baie sal haar onthou in film en televisieproduksies soos Verkeerde Nommer, Torn Allegiance, Skooldae 1 & 2, Mattewis en Meraai, Scotty Smith, YarWellNoFine, VeeBee, ensomeer. Meer onlangs was Ilse in die verhoogproduksie, Ysteraster en Festen te sien.
Estelle McIlrath is'n gerespekteerde en welbekende figuur in Mosselbaai. Sy het haar kunsskool, die Estelle McIlrath Art School, in 1984 in Mosselbaai gevestig.
Sedertdien het sy menige toekennings - beide nasionaal en internasionaal - ontvang vir haar unieke, dog uiters suksesvolle, metode van kunsafrigting.
Sy word gereeld genooi om lesings en werkswinkels aan te bied by, onder andere, skole, universiteite, gallerye en die World Children's Art Festival. Sy is 'n bekende beoordelaar by plaaslike en nasionale kunskompetisies, soos die International Peace Competition wat deur die Lions Club van Suid-Afrika georganiseer word.
Joubert Jonker is 'n bekende in danskringe. Hy is 'n populêre beoordeelaar wat wyd oor die land in aanvraag is maar wat ook al in Portugal, Engeland, Spanje en Egipte beoordeel en danstoere onderneem het.
Hy sal ook onthou word vir sy onlangse optrede as beoordelaar in die Via-program, Dans in jou Taal.
Verdere inligting, sowel as 'n kopie van die Mosselbaai 2022 eisteddfod-prospektus, is by Abé Meintjes (083 268 3718) verkrygbaar.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'